God se Woord in vandag se woorde

’n Formidabele span


God, die Vader, en Jesus is ’n formidabele span. God is die Skepper God. Hy spreek net en dinge gebeur. Uit niks uit ontstaan alles. Selfs ons mense word deur Sy hande gevorm en deur Sy Goddelike asem, kruip die lewe in ons.

Jesus is presies net soos God en die Een wat alles in stand hou. By Sy Vader het Hy geleer dat Hy net kan spreek, dan gebeur dinge. Dit is so wonderlik en eintlik te groot vir my menslike verstand om alles presies te verstaan:

3Wanneer jy na die Seun kyk, sien jy eintlik vir God self en hoe wonderlik Hy is. Die Seun lyk net soos God. Hy sorg dat alles in die skepping bly soos dit behoort te wees, want Hy hoef net te praat en dan gebeur dit. Nadat Hy gesorg het dat ons skoon gewas is van ons sondes, is Hy terug na die magtige en groot God in die hemel toe.

Selfs hier, vandag in ons lewe, is hierdie formidabele span nog aan die woel. Op ’n heel besonderse manier ervaar ek dit aan my eie lyf.

Dit was laat die aand toe ons buurvrou in die kampterrein erg benoud kom aanklop. Ek moet kom help. Haar man het erge borspyne.

My kop maal rond en ek wonder wat om te doen. Ek onthou van ’n dokter wat hoër op in die bos kamp. Met ’n spoed gaan haal ons haar. My seun en ’n paar vriende gaan roep nog ’n dokter.

Dankie tog. Daar is twee dokters wat Buurman kan help. Ek kry solank die bakkie reg om in dorp toe te jaag.

Eers later vertel dr. Schalk wat gebeur het.

Met sy aankoms, besef hy dat Buurman glad nie op ’n goeie plek is nie. Sy hart is swak. Hy het so ’n masjientjie wat hy op Buurman se vinger sit om ’n lesing van sy hartklop te gee. Maar hy kry niks. Hy probeer nog ’n vinger, maar niks. Dr. E. probeer ook voel. Maar kry niks.

Buurman se hart het gaan staan.

Dr. E. sê sag: “Ons het hom so pas verloor.”

Met ’n kop wat vinnig dink aan watter opsie volgende, raak dr. Schalk eenvoudig rustig, vat Buurman om die nek en sê beslis: “In die Naam van Jesus, maak oop jou oë.”. Dr. Schalk vertel later dat hy eintlik geskrik het toe Buurman se oë dadelik oopmaak.

Saggies het sy hart weer in ritme begin klop.

Twee dae later is Buurman terug met twee splinternuwe stente. Buurman so-effe gedemp, stomgeslaan en oorbluf. Sy familie ook. Die res van die kampmense ook en ons praat sag oor ons magtige God wat nog steeds vandag met ons woel.

“…want Jesus hoef net te praat en dan gebeur dit.”

Teks
Hebreërs 1:1-4

Om oor na te dink
Wat beteken die formidabele span vir jou?
Waar het jy die span nou nodig?
Vir wie moet jy die span bring?

Gebed
God en Jesus. Watter span is U nie! Hoe groot is die dade wat U gedoen het en nog steeds doen. Sonder U sal die wêreld nie kan oorleef nie. Aan U span kom al die eer en heerlikheid toe. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek