God se Woord in vandag se woorde

‘n Geskrywery in harte


2 Korintiërs 3:1-3

3… Toe ek daar by julle gepreek het, het Hy in julle lewe begin skryf. Onthou: Christus het nie gewone ink gebruik nie. Nee, Hy het die Gees van die lewende God gebruik. Hy het ook nie op kliptafels geskryf nie, maar op die tafels van julle hart. Hy het julle splinternuut gemaak.

Paulus gebruik die beeld van ’n brief om vir die mense van Korinte te vertel dat hulle elkeen ’n brief of getuigskrif is van die werk van God. Die wêreld lees ander soos ’n boek. Wat uit hulle monde kom en veral hulle dade, dra ’n boodskap oor. Christene se boodskap is ’n boodskap van verlossing, van uitkoms, van redding, van genade, van vreugde en van vrede.

Die vraag is hoe dit gebeur. Hoe verander ’n mens van ’n godlose wese wat op die pad van die duisternis rond strompel na iemand wat ewe skielik met durf, ’n missie en ’n huppel in die stap in die lig wandel? Uit Paulus se skrywe is dit baie duidelik dat dit die werk van die Heilige Gees is.

Dit is die Heilige Gees wat in die harte van mense werk. Die Heilige Gees skrywe in ons harte. Die Heilige Gees woeker in ons harte om ons anders te maak – splinternuut te maak. Dit is so radikaal anders as in die ou bedeling. In die ou bedeling het God op twee plat klippe geskryf. God het vir al die mense 10 wette gegee waarvolgens hulle moes lewe. Daar was twee grense opgerig en bewaar jou as jy oor die lyne getrap het. Dan het daar groot moeilikheid vir jou gewag.

Maar met die nuwe bedeling waar Jesus die straf vir die sonde kom dra het, het God se manier van werk verander. In plaas van twee koue, harde kliptafels waarvoor mense eintlik bang was, want sê nou maar ons maak dit nie, wat dan… het God eerder besluit om Hom met elkeen persoonlik te bemoei. In plaas van koue, harde beitels, besluit God om met sy Gees saggies en persoonlik in elkeen se hart te skryf. In plaas van koue, harde straf kom praat God saggies met elkeen van ons.

Ek hoor daagliks baie stories van mense wie se dade ’n brief is wat die Heilige Gees aan die skryf is. Mense wie se hande en voete vat en loop waar ander baie swaarkry. Hulle maak ’n verskil waar hulle ookal gaan. Hulle kan nie anders nie, want die Heilige Gees is woes aan die skrywe in hulle harte.

Tog sien ek ook mense wat eenvoudig net ’n koue skouer gooi en verbystap en net eenvoudig niks worry nie.

Waar lê die verskil? Ek dink dat eersgenoemde hulle harte oopgestel het vir die Heilige Gees en dat laasgenoemde nog met klippe en beitels werk. Eersgenoemde word gedring deur liefde en laasgenoemde deur vrees vir die grense en pak slae.

Die enigste pad is die pad van die Heilige Gees wat met liefde in ons harte skryf en woel. Jy is al een wat kan toestemming gee vir die Heilige Gees om in te kom. Jy maak die deur van jou eie hart oop of toe. Dalk het dit tyd geword dat ons elkeen erns maak met die woning van die Heilige Gees in ons harte en lewens. Die Heilige Gees skree nie kliphard soos die kliptafels met die wette van Moses nie. Nee, die Heilige Gees is anders. Die Heilige Gees loop lig en saggies. Ons moet plek maak en luister.

Om oor na te dink

Hoe lees jou brief?

Sien die mense die werke van die Gees in jou dade?

Moet jy nie dalk eers gaan stil word en luister nie?

Gebed

Onse Vader wat in ons woon, hoeveel maal het ons nie al ons ore toegehou vir U leiding nie? Hoeveel maal het ons nie ons harte verhard omdat ons nie wou hê U moes daar woon nie? Ek wil nie so lewe nie. Ek wil graag plek maak vir U in my lewe. Ek wil na U luister en U volg. Kom woon in my hart. Ek sal stil word en luister. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek