‘n Getimmer om te help?
10Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam. Tog is die groot krag van Jesus ook deur my liggaam aan die werk. 11Terwyl ek lewe, word ek altyd aan die dood uitgelewer omdat ek in Jesus glo. Tog vloei die krag van Jesus se nuwe lewe ook heeltyd deur my sterflike liggaam. 12In my lewe werk die dood, maar dit het vir julle die lewe gebring. Al my swaarkry en lyding is die moeite werd: dit het gemaak dat julle nou nuwe mense is in God se oë.
Paulus is wys. Paulus sien die groter prentjie. Paulus kyk nie vas teen die storms wat die een na die ander oor hom hardloop nie. Hy laat nie toe dat die swaar winde hom in ’n hoekie vasdruk nie. Nee, hy sien waar dit alles inpas in die prentjie wat God van hom het. Hy besef dat die swaar wat hy nou kry, hom help om die ander wat swaarkry, te verstaan. Dit hou hom op die grond en hy weet dat God sy swaar gebruik tot eer van sy naam. Mense word uit die hande van die bose geruk en kom tot inkeer. Watter groot fees is dit nie? Net vir een mens wat tot inkeer kom, is hy bereid om al die swaar op sy skouers te dra. Sjoe, dis wys.
Ek sukkel om te aanvaar dat God met my aan die woel is wanneer ek deur die lewe vasgedruk word dat my oë traan. Ons almal sukkel. Connie sê:
Ek het dit al so baie keer in my eie lewe ervaar. Soms voel ek partykeer of die dood behoorlik op my is, so moeg is ek. Soms worstel ek met so baie geestelike probleme. Dan bring die Heilige Gees ander mense se nood onder my aandag en ek vra in gebed: “Heer, U weet ek kan nie eers myself regop hou nie, hoe kan U van my verwag om ander nog te dra ook?”
Maar ek is gehoorsaam en doen soos die Heer my vra, al voel dit partykeer ek is leeg gegee, hetsy finansieël of geestelik deur gebede vir ander geliefdes. Maar ek gaan aan en kyk net vorentoe en hou my oog op die grootste prys wat vir my wag in die hemel, daar waar die Here Jesus vir my rus en vrede en stilte en genade aan Sy sy sal gee wanneer ek Hom van aangesig tot aangesig ontmoet.
Dit alles maak die swaarkry op aarde vir my die moeite werd, want hier op aarde is baie pyn, ellende en swaarkry, nie net vir my nie maar vir ieder en elk om my.
Pyn en seer en swaar los gate in ’n mens se lewe, maar dalk sal dit help as ons deur dieselfde bril as Paulus en Connie daarna kyk. Op ’n manier is God besig om deur die swaar met ons te woel en dit is juis om ander te help.
Casting Crowns sing presies hieroor in hulle liedjie: Just Be Held:
Hold it all together
Everybody needs you strong
But life hits you out of nowhere
And barely leaves you holding on
And when you’re tired of fighting
Chained by your control
There’s freedom in surrender
Lay it down and let it go
So when you’re on your knees and answers seem so far away
You’re not alone, stop holding on and just be held
Your world’s not falling apart, it’s falling into place
I’m on the throne, stop holding on and just be held
Dalk is die een vir jou…
Om oor na te dink
Seer?
Sien jy God se plan?
Gebed
Here, dis soms moeilik om in seer tye ander se seer raak te sien. Dankie dat U dit vir my moontlik maak om selfs in sulke tye weg te kyk van myself en ander te ondersteun. U weet hoe ek voel en dit bring troos. Amen