God se Woord in vandag se woorde

‘n Grap om voor te lag


Klein Jannie en sy gesin eet Sondagmiddag by Ouma. Net toe almal aan tafel is, begin Ouma die kos opskep.

Toe Jannie sy bord kos ontvang, begin hy dadelik eet.

“Jannie, asseblief!” sê sy ma. “Wag asseblief tot ons gebid het.”

“Ek hoef nie,” sê hy dadelik.

“Natuurlik moet jy!” antwoord sy ma. “Ons bid altyd voor ons by die huis eet.”

“Ja, maar dit is by ons huis” verduidelik Jannie. “Maar hierdie is Ouma se huis, en sy weet hoe om te kook.”

Ai, ek geniet dit om na ’n grap te luister. Self is ek nie te goed daarmee nie, want ek vergeet óf die punch line óf ek trek sommer hier heel aan die begin met die punch line weg en dan is die grap nie meer snaaks nie. Deesdae is dit veel makliker om ’n grap te vertel, want ’n mens kan sommer met WhatsApp of e-pos ’n ou grap van Tolla en kie aanstuur.

So stuur ek ’n tyd gelede ’n klankgreep van een van die manne van Spies en Plessis-faam aan ’n klomp van my vrinne. Die volgende dag bel een van hulle my en sê hy kry dit nie op sy foon oopgemaak nie. Hy sê ek moet dit weer vir hom aanstuur en hy eindig af met: “Mits dit skoon is.” En die “mits dit skoon is” gaan steek vas en ek gaan luister met ander ore na die grap klankgreep en ek wonder hoe skoon dit nou eintlik is. Ek wag nog vir myself om ’n antwoord te gee en nee, ek het dit toe nie weer vir my vriend gestuur nie.

Wanneer ek dan by die vers moet stilstaan, raak die spoeg so effe meer in my mond: 29Moet ook nie allerhande vuil grappe vertel of lelike praatjies maak nie. As julle iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê en vir ander iets beteken. Kyk wat nodig en goed is om in die omstandighede te sê en sê dit dan.

Vuil grappe het die geneigdheid om hier binne jou te kom lê en jou juis vuil te maak. Dit los prentjies in jou kop wat nie lekker in God se prentjie van ons pas nie. Daarom moet ons dit bewustelik uitsny. Sit wagte in plek sodat die onwelvoeglikes nie op slinkse maniere hulself opdring nie. As jou vriende in daardie rigting begin praat, stap weg. Hulle gaan aan die begin een of ander opmerking maak oor jou wat nou weer upstairs is, maar weet dat hulle eintlik respek het vir jou. Later sal hulle al hoe minder vuil grappe in jou teenwoordigheid vertel. Dit is ’n great plek waar jy jou getuienis op ’n sigbare manier kan uitleef.

God is die een wat ons geskape het. Hy het vir ons humor gegee en ons moet dit gebruik. Laat ons dit terugvat uit die ander een se hande wat so daarmee mors. Kom ons hou dit skoon en geniet dit gate uit. Vanuit skoon humor bars daar ’n klomp lekker ontspanne energie los.

Teks:

Efesiërs  4:17-32

Om oor na te dink

Hoe skoon is jou grappe?

Wat maak jy as ’n ander ou se grap aan die verkeerde kant van die belt sit?

Gebed

Here, dis nie altyd maklik om nie te lag as ’n snaakse grap onder die belt is nie. Soms kan ek nie eens onderskei wat is skoon en wat is nie. Laat ons saam probeer om die humor wat U ons gegee het, skoon te hou. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek