’n Hart vir ander
Wanneer ek eendag in die hemel is, sal een van my eerste afsprake met Paulus wees. Ek sal hom graag van aangesig tot aangesig wil leer ken, want hy was voorwaar ’n merkwaardige man. Met alles in hom het hy ander op sy hart gedra. Hy het spanning gehad ter wille van ander. Die gemeentes in Kolosse was nie een deur hom gestig nie – inteendeel – hy ken nie eens die mense daar nie en tog gaan sy hart uit na hulle.
1Ek wil hê julle moet weet hoe ek my vir julle inspan. Dit is of ek in ’n hewige geveg ter wille van julle en die Laodiseërs gewikkel is; selfs ook vir hulle wat ek nog nie persoonlik ontmoet het nie.
Hoe anders sou die wêreld nie gelyk het as ons almal dit kon regkry nie? Maar ons het geleer om net aan onsself te dink. Ons hele lewe draai om onsself en wat ons uit die wêreld kan kry. Byna alles wat ons doen, het ’n selfsugtige geur. Ons is nie bereid om vir ander mense wat ons ken te ly nie, wat nog te sê van die vreemdelinge wat so nou en dan oor ons pad gestrompel kom.
Ek wens ek kan ’n knoppie druk sodat alle mense soos Paulus ’n hart kry wat geen grense ken nie. Ek wens ek kan ’n knoppie druk wat my hart verander en ander mense eerste op die lys in my lewe sit. Ek kry dit nie altyd reg nie. Ek beur die heeltyd na die eie ek en sit myself heel bo-aan die lys.
Hoe kry Paulus dit dan reg? Hy was tog nie van die begin af so nie. Inteendeel, die eerste gedeelte van sy lewe het hy Christene vervolg en hulle selfs doodgemaak! Nou is hy presies die teenoorgestelde.
Ek vermoed dit was op die Damaskus-pad waar Paulus se lewe onherroeplik omgedraai is. Wanneer jy jouself in die liefdevolle God vasloop, word die spreekwoordelike appelkar omgegooi en jy is nooit weer dieselfde nie. Wanneer ’n moordenaar deur God geroer word, word hy so sag soos ’n lammetjie en hy sal pyn vat vir mense wat hy nie eens ken nie.
Op ons eie kan ons nie ons harte verander nie. Ek kan nie maar net ’n besluit neem om nou vir ander om te gee tot so ’n mate dat ek ten diepste treur vir hulle nie. Ons is nie so gerat nie. Maar wanneer ons toelaat dat God met sy Gees deur ons waai, kán daar verandering intree.
Sonder dat Ivan dit besef, kry hy dit reg:
Ek was by die bure vir ’n braai en het die tyd saam met hulle geniet. Ek was nie alleen nie. Daar was ’n jong paartjie ook en die jongman het gepraat oor sy ongelukkige verhouding met sy pa (sy ouers is geskei). Hy het gesê dat sy pa hom uitgenooi het na sy verjaardagpartytjie. Ek het voorgestel dat hy na die partytjie gaan en vir sy pa sê dat hy hom liefhet en graag wil versoen.
Toe ek later navraag doen oor hoe dit gegaan het, het hy vir my gesê dat dinge bo verwagting goed verloop het en dat hy baie lanklaas soveel aandag van sy pa gekry het.
Die buurvrou het ook goed uitgepak oor haar ongelukkige lewe. Ek kon maar net sit en luister en haar van God se Liefde en Voorsiening verseker en daaraan herinner. Ek het saam met haar gehuil. Ek het baie langer gebly as wat ek wou.
Ek hoop dat dit iets vir haar beteken het – al het ek net geluister.
’n Eenvoudige net daar wees vir die mense in nood. ’n Rêrige hart vir ander soos wat Paulus gehad het. Dit is wat ons ook moet doen.
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Hoeveel van jou hart is daar vir ander?
Waar kan jy help?
Hoeveel spasie gee jy vir God om in jou te woel?
Gebed
Here, Paulus se lewensverhaal is vir ons opgeteken sodat ons daaruit kan leer. Mag sy voorbeeld aan ons harte raak en mag dit ons motiveer om ook ’n hart vir ander mense te hê, want dit is wat U van ons vra. Amen.