’n Hart wat gee
Paulus sit in die tronk en die gemeente vir wie hy nou aan die skryf is, het vir hom ’n presentjie gestuur. Hy is so dankbaar daarvoor: 10Ek kan julle nie sê hoe bly ek is dat julle my nie vergeet het nie. Ek is saam met die Here daaroor bly. Vir ’n lang tyd het julle nie kans gehad om dit te wys nie. Maar ek weet dit het nie beteken dat julle nie vir my omgee nie. Daar was net nie vir julle ’n kans om iets te doen nie.
Hy is darem ordentlik. Hy het lank swaargekry in die tronk en dit is swaar met ’n hoofletter s, want daardie jare was dit nie maklik in die tronk nie. Jy is as ’n misdadiger gesien en dienooreenkomstig behandel. Onmenslik. Vir lank was daar geen omgee van niemand nie en hy het selfs van die mense van Filippie niks gekry nie.
Tog neem Paulus die gemeente nie kwalik nie. Hy is so ordentlik en bedank die mense uit sy hart. Hy loop letterlik oor van vreugde al was dit net ’n klein geskenkie wat daar by hom aangekom het. Dalk was dit nie oor die grootte van die geskenk nie, maar die feit dat ander vir hom wat in die tronk is nog omgee, wat hom weer moed gegee het. Nou kan hy weer sy kop oplig en die dag aanpak.
’n Klein geskenkie verander Paulus se lewe in die tronk, want op ’n manier vertel die storie meer as net ’n geskenk wat gegee is, maar dit vertel ook ’n storie van mense se hart.
Die vraag is wat vertel die stories van ons hart?
Kyk hoe lyk Tannie Pat se hart:
Soms voel dit of ek nie genoeg doen nie. Mission without borders was verlede jaar by ons kerk en ek was verstom oor die foto’s wat vir ons gewys is oor die kinders en families in Rusland en die omliggende gebiede.
Daar het so min mense vorendag gekom om hulp te verleen.
Ek is ’n weduwee wat maar sukkel om kop bo water te hou, maar ek het gevoel ek kan ten minste een persoon help. Daar was foto’s van die kinders en een seuntjie het my aandag getrek. Ek het dadelik aangeteken. Teen R190.00 per maand kan die seun elke dag eet en gehuisves word in ’n sentrum waar die sendelinge van die kerk werk.
Soms wens ek dat ek meer geld gehad om nog iemand by te staan. Ek besef dat daar ook kinders en gesinne in ons eie land is wat net soveel tekorte het, en ek het nog nie uitgereik om tuis te help nie. Maar ek sal werk daaraan. Ek glo die Heer sal my gebruik soos Hy goeddink.
’n Eenvoudige storie, maar met ’n groot boodskap. Hoe lekker is dit nie vir my en ek weet ons Vader ook om Tannie Pat se hart te sien nie. ’n Hart wat omgee. ’n Hart wat huil oor ander se swaar. R190 is dalk nie baie vir jou nie, maar dit raak haar beursie swaar en tog hunker sy om meer te gee.
Dalk sal die seuntjie eendag ook na bo roep en dankie sê vir die vrou wat hy nooit geken het nie. Dankie vir die geldjie wat sy vir hom gegee het om kos te kry en te kon hoor van die Verlosser.
Mag dit waar wees van my en jou. Mag ons ’n hart hê soos die gemeentelede van Filippie en Tannie Pat. Mag ons sensitief wees om die nood van ander raak te sien en iets daaraan te doen. Hoe klein ookal, hoe min ons ookal het. Mag ons harte ons aanvuur om werklik ’n verskil te maak.
Om oor na te dink
Hoe lyk jou hart?
Gee jy graag?
Waar kan jy ’n verskil maak?
Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, dankie vir alles wat U vir ons gee. Dankie dat ons ook vir ander kan gee. Help my hart om op ander ingestel te wees en die nood rondom my raak te sien. Help my om ook iets daaraan te doen. Amen