’n Laaste briefie
En hier is ons weer aan die einde van nog ’n jaar. Die eerste normale jaar na COVID, of was dit? Vir sommige moes die afgelope 2 jare se verlore goeters saam met vanjaar se uitdagings opgevang word. Sommige het dit reggekry, ander nie.
Almal is moeg. Moeg vir die voortslepende krag, politieke en ander uitdagings.
Dit is sulke tyd wat ons kan opkyk, met arms uitgestrek en saam met die Psalmdigter sê: Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? Dit kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Dis al wat tel. Die res is geraas. En dit is so – net ons Vader kan ons krag gee, wysheid en durf gee om die toekoms in te gaan.
My wens vir jou vir die Kerstyd is dat die Een wie se geboortedag ons vier spesiaal by jou sal opdaag en dat jy jou hoop op Hom sal vestig. Mag Hy jou omarm en beskerm teen die aanvalle van die wêreld.
In die besige wêreld hardloop ons gereeld verby mekaar. Daarom wil ek hier aan die einde van die jaar vir jou baie dankie sê vir die saamreis. Dankie dat ons ’n paar keer per week daar by jou skerm kon oppop. Dankie dat jy toegelaat het dat die Heilige Gees met jou hierdeur woel.
Dankie vir elkeen wat saamgepraat het, vir elkeen wat bemoedig het, vir elkeen wat ons soms kortgevat het. Dankie vir elke donateur wat dit moontlik maak vir ons om hierdie groot bus op die geestelike paaie te hou.
Vir ons hier by Kruispad247 is dit ’n groot voorreg om deur ons Vader uitgekies te word om voltyds in Sy diens te staan. Ons voel klein en wonder soms hoekom Hy juis vir ons gekies het. Ons staan soms verbaas ja, maar as ons op na die berge kyk, weet ons ons kry ons hulp van die Een wat die hemel en die aarde gemaak het.
As jy bevoorreg is om die feestyd weg te gaan, mag jy gou al die engines afskakel en lekker rus. As jy nog moet werk, mag jy krag ontvang om deur te druk. Maar meer nog, maak nie saak waar jy is nie, mag ons Jesus Christus orals om ons voel.
Wees veilig. Drink elke oomblik in en onthou: druk dit in die rooi en maak mooi.
Gerjo Ben, Renata en die Kruispad-span