’n Lewe met ’n goeie storie
Partykeer kan mense onderduims optree en dink ander mense val soos soetkoek daarvoor. Ek ken ’n ou wat altyd lang stories vertel, wat vêr van die waarheid is. Nou glo ek nie meer een woord wat hy sê nie. Dis eintlik sleg, want soms praat hy die waarheid, maar omdat hy so baie keer spekgeskiet het, word daar nou ook ’n vraagteken agter die waarheid geplaas.
Mense is nie dom nie. Meestal word mense net een of twee keer om die bos gelei. Daarna skop daar verdedigingsmeganismes in om te keer dat hulle nie weer vir ’n pop gevat word nie. Al wat hulle dan doen, is om ’n bordjie om die ander persoon se nek te hang wat sê: Hierdie ou praat nonsens. Vat alles met ’n knippie sout of twee.
Wat ons sê en wat ons doen vertel baie. Dit gee ’n kykie vir die mense wat hier binne ons aangaan en hoe ons dink oor dinge. Sommige kere gril ek vir wat ek sien …
Ons praat met ’n ou om backups van ons data te doen. Hy’s nogal glad met die mond. Vertel alles wat hy kan doen en nog meer. Toe hy uitstap toe sê hy dat hy, sonder dat ons dit weet, op elkeen van ons rekenaars ’n programmetjie kan installeer om al ons data af te tap.
Die ou het, sonder dat hy weet, ’n stukkie van sy binneste oopgemaak en die prentjie is nie mooi nie. Hoekom sal ’n mens jou nou bemagtig om sulke programmetjies op ander se rekenaars af te laai? Ek sal hom nooit met my data vertrou nie.
Ek wonder as ek die mense wat naby my is, vra om my deur hulle brille ’n kykie in my lewe te gee, hoe dit sal lyk?
Ons wat kinders van God is, het ’n groot verantwoordelikheid. Ons moet, te midde van al ons sonde, die wêreld wys hoe die regte lewe lyk. As alles klopdisselboom lyk, dan is dit mos maklik, maar as die dinge nie so lekker loop nie. Dis dan wanneer ons eers op ons pos moet wees en ons uiterste probeer om dit reg te doen.
Ons 6… ganse lewe moet daarom vertel dat hy doen wat die Here sê.
Daar by die werk, as die mense nie doen soos ek sê nie, moet my optrede ’n prentjie wys van hoe Jesus dit sou gedoen het. Daar waar ek in die kar ry, met almal wat so voor my indruk. Daar in die huis, as die kinders of die ouers nie reg maak nie. Daar waar die regering al weer op foeter. Daar waar …
Orals moet ons lewe vertel wie ons God is en dat ons eerder sal optree soos Hy gedoen het.
En as iemand sou vra wie kry dit nie elke keer reg nie, sal ek my hand ook skamerig in die lig moet steek. Seker jy ook. Maar laat ons nie in sak en as gaan sit nie. Ons almal het êrens ietsie wat nie lekker is nie. Êrens is daar ’n gat in ons almal se mondering, maar laat dit ons nie van stryk bring nie.
Kom ons soek die donker kolletjies in ons lewens. Kom ons soek die plekkies waar ons weet ons die toets pluk en werk daaraan, sodat ons gedrag onberispelik kan wees.
Teks
Tit 1:6-10
Om oor na te dink
Waar is jou vlekkies?
Hoe moet jy maak om van die vlekkies ontslae te raak?
Watter vlekkies was ‘n paar jaar terug in jou lewe, wat nie nou meer daar is nie?
Gebed
Jesus, hier dop ek ’n toets. Gedurig. Ek weet ek wys nie altyd hoe U dit hier op aarde gedoen het nie. Mag U my met ’n hoop genade omvou en my wys en help om die lewe te leef soos U dit wil hê. Amen.