’n Lewe met ’n missie
Wat is jou doel op aarde? Hoekom dink jy het God jou gekies om hier op die aarde te wandel? Sit so vir ’n tydjie stil en kyk of jy ’n antwoord op die vraag kan kry en skryf dit êrens neer.
Baie mense weet nie hoekom hulle eintlik op die aarde is nie. Ek dink die meeste mense is besig om hulle eie doel te bereik. Almal wil graag suksesvol wees. Vir die meeste mense is ’n dak oor hulle kop, kos in die maag en ’n goeie skoot geluk genoeg om na te jaag. En daarmee is niks verkeerd nie. Ons moet ’n doel hê waarvoor ons lewe. Self die Bybel is ernstig daaroor: 17Moenie julle lewens mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef.
Sonder dat ons besef word ons tyd so stukkie vir stukkie opgeslurp deur dinge wat maar kon gebly het. Neem nou maar bv. die sosiale netwerk. Ek doen navorsing onder die Kruispadlesers en vra vir hulle hoeveel van hulle is op die sosiale netwerke. Net 9% dui aan dat hulle nie daarop is nie.
In die daaropvolgende vraag vra ek hoe gereeld is hulle op die sosiale netwerke. Dit word soos volg geantwoord: 4% uurliks, 60% daagliks en 25% weekliks. Hoeveel tyd bestee jy met dinge wat eintlik nie veel waarde tot jou lewe en die lewe van ander voeg nie? Soms word ons tyd so opgeslurp om nuus wat met ander gebeur dat ons nie by ons eie werk uitkom nie.
G’n wonder dat besighede hulle werknemers blok om in werkure op die sosiale netwerke rond te dwaal.
So baie mense daar buite dryf soos ’n dobbertjie heen-en-weer en het nie eintlik ’n doel nie. Hulle gaan maar waar die winde hulle waai. Aan die begin is die vryheid heel lekker, maar dis nie lank nie of hulle word oorrompel deur ’n gevoel van nutteloosheid. Selfs depressie kan inskop as ’n mens so sonder ’n doel in die lewe dryf. God het ons gemaak met ’n wil om iets na te streef, om iets eendag te word.
Daarom is dit so belangrik dat ons weet wat ons doel op aarde is. Maar meer nog, ons moet seker maak dat ons idee en God se idee mekaar êrens ontmoet. Ons moet seker maak dat ons na dieselfde punt beweeg wat God in gedagte gehad het toe Hy ons aanmekaargesit het.
Ek vermoed ons almal het hier dieselfde doel en dit is om waar ons werk, speel en lewe ’n verskil te maak. So maklik soos dit. Nee, ons hoef nie ons mat op te rol en êrens in ’n snaakse plek God se Woord te gaan verkondig nie. Daarvoor het God spesiale gesante gekies. Vir ons gewone ouens op straat is God se doel dat ons ’n verskil sal maak net daar waar ons gaan.
Dalk om ’n oor te leen vir iemand wat wil afpak. Dalk om vir iemand kos gaan koop. Dalk om vir iemand tyd te gee en dit is nie noodwendig altyd buite ons gesinne nie. God se doel vir ons lewe begin juis daar binne ons gesinne en bestaande verhoudings, waar dit soms die moeilikste is om te begin.
Daar is niks mee verkeerd om gedryf te word om ’n sukses van die lewe te maak nie. Daar is niks verkeerd om ’n prentjie in die toekoms te hê van die hoogste sport by jou werk of jou besigheid nie. Daar is niks mee verkeerd met lekker wiele of ’n mooi hangkas nie. Solank ons dit net in lyn kry met God se doel vir ons lewe. Ons moet dus nie ons doel TEN KOSTE VAN God se doel vir ons lewe doen nie.
Maak seker wat God se spesifieke doel vir jou lewe is en doen dit. Leef dit elke dag saam met jou doel uit. Reik na God terwyl jy na die sterre reik en maak God se doel vir jou lewe ook jou doel. Ware vreugde sal uit jou oorloop.
Om oor na te dink
Wat is God se doel vir jou lewe?
Wat is jou doel vir jou lewe?
Reik jy na God terwyl jy na die sterre reik?
Gebed
Here, ek wil ’n lewe leef wat betekenis het. Ek wil nie net vir myself leef nie. Maak my oë oop vir ander se nood. U voorsien genoeg vir my om ook ander se nood aan te spreek. Amen