God se Woord in vandag se woorde

‘n Lewe wat God trots maak


Keer op keer praat Paulus padlangs met die gemeente van Korinte. Hy praat met hulle op ’n manier wat elkeen kan verstaan. Dit is so prakties dat ons nie veel meer daaroor hoef te sê om dit self te verstaan en deel te maak van ons lewe nie. Neem nou maar net vers een van hoofstuk 7: 1My liewe broers en susters, al hierdie beloftes is vir ons bedoel. Daarom moet ons nou dadelik elke verkeerde ding laat staan waarmee ons besig is. Ons moet alle onreinheid uit ons gedagtes verban. Eerbied vir God moet ons hele lewe vul. Ons moet met alles in ons daarna streef om volmaak te wees in ons toewyding aan God. Ons moet net doen wat Hy van ons vra.

Van watter beloftes praat Paulus hier? Die slim manne wat die Bybel goed ken, sê dat hierdie vers eintlik nog by die vorige hoofstuk pas. Die belofte is in vers 18 van hoofstuk 6: 18”Ek sal vir julle ’n Vader wees. Julle sal my seuns en dogters wees,” sê die Here. Sjoe, dis darem ’n wonderlike belofte van God. Dat Hy ons Pa sal wees. Hy sal vir ons alles en nog meer doen. Hy sal ons oppas. Hy wil vir ons net die beste hê. Hy sal ons beskerm. Hy sal altyd by ons wees. Hy sal ons lei en die regte pad wys. En nog vele meer.

Hierdie belofte is vir elkeen van ons en ons moet dit deel maak van onsself. Ons moet dit aangryp en met alles in ons glo. Ek is ’n kind van God, daarom is God my Vader, my Pappa, die een wat sy hand die heeltyd oor my hou. Glo dit. Hou daaraan vas. Leef dit.

Wanneer ons dit dan deel gemaak het van ons bestaan, gebeur daar iets in ons. Ons kan nie onaangeroer staan en op ons ou pad aanfoeter nie. Ons pad verander noodwendig, want ons wil nou die pad volg wat ons Vader voorstel. Ons moet bewustelik breek met die verkeerde dinge: 1… Daarom moet ons nou dadelik elke verkeerde ding laat staan waarmee ons besig is.

Elke mens het ’n “reg-of-verkeerd” klokkie. Wanneer ons dinge doen wat aan die verkeerde kant van die lyn is, pla dit. Ons raak ongemaklik en ons weet hier is nou dinge aan die gang wat nie reg is nie. Wanneer ons God se Vaderskap erken, lui die klok al hoe harder wanneer ons by die lyn kom waaroor ons nie moet trap nie. Ons moet bewustelik ontslae raak van die verkeerde praktyke in ons lewens. Bewustelik moet 1… ons alle onreinheid uit ons gedagtes verban.

Jy sien, wanneer ons begin dink aan die verkeerde, start ons reeds die tjor van die verkeerde en kort voor lank trap ons die pedaal in die hoek en ry ons in ’n muur vas en daar is chaos. Kyk maar net terug oor jou lewe en gaan terug op die paadjies van verwoesting en seer. Waar het dit alles begin? Net daar waar die klein saadjie in jou gedagtes geplant is. Daarom: Begin by die begin. Roei dit uit jou gedagtes. Moenie eers daaraan begin dink nie. As daar nie ’n saadjie is nie, kan ’n plantjie nie opkom nie.

Nee, kom ons gebruik al ons energie om eerder die volgende te doen: 1… Eerbied vir God moet ons hele lewe vul. Ons moet met alles in ons daarna streef om volmaak te wees in ons toewyding aan God. Ons moet net doen wat Hy van ons vra. Ons moet God eerbiedig. Met alles in ons moet ons streef om presies te doen wat Hy van ons vra. Ons wou altyd ons aardse vaders se bors laat uitstaan van trots. Hoeveel te meer moet ons nie so leef dat ons Hemelse Vader trots sal wees oor die manier hoe ons hier op die aarde lewe nie?

Komaan! Die boodskap is so eenvoudig. Lewe reg. Daar by die huis. Moenie onmin saai nie. Moenie kwaai wees nie. Nee, wees die minste. Selfs by die werk en by jou vriende. Leef soos ons groot broer geleef het. Ja, kyk na Jesus se manier van lewe en doen presies dieselfde. Los die sonde en leef ’n lewe wat getuig van eerbied vir jou Pa. Leef ’n lewe wat God nie sal skaam maak vir jou nie, maar eerder ’n lewe waarop God sy bors sal uitstoot sodat Hy kan sê: Kyk daar! Dis my kind daai!

2 Korintiërs 7:1

Om oor na te dink

Waar lui die verkeerde klokkie?

Wat doen jy daaraan?

Hoe en waar kan God deur jou optrede verheerlik word?

Gebed

Here, dankie vir die wete dat U my Pa is. Ek wil nie aanhou lewe soos ek nou lewe nie. Ek wil die verkeerde goeters wortel en tak uitroei. Maar dit is nie so maklik nie, want dit is die default waarna ek elke keer terugval. Help my om op te staan teen die verkeerde en U pad te stap. Ek wil U so graag trots maak op hoe ek leef. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek