God se Woord in vandag se woorde

‘n Liefdesles uit padwoede


1 Korintiërs 13:4-5

Ons gesin gaan koop vir ons 3 nommer 5’s by McDonalds in Stellenbosch. Eers hoor hulle verkeerd en kom met McFeasts daar aan. Ons wag geduldig op die nommer 1 parkeerplek. Gelukkig kry ons gou alles en ry fort. Ons draai regs en stop by die 4 stop. Ek het skaars daar weggetrek, met so ’n halwe motor oor die stop, toe woerts ’n ou van links en jaag oor die stopstraat, reg voor ons in.

Ek skrik en uit verbasing druk ek sommer so ’n noot op die toeter. Net daar stop hy in die middel van die straat en spring uit sy kar, reguit na my toe: “Wil jy vir my iets sê?” vra hy diep die dinges in. Terwyl ek presies dophou waar sy hande is (dis nou vir die slaan slag) en planne maak hoe ek dit gaan oorbrug, antwoord ek: “Jy het nou net reg voor my ingery.”

“Dis jou opinie,” sê die man en daar draai hy om, klim in sy kar en jaag verder. Verbaas sit ons hele gesin nog vir ’n sekonde so in die middel van die straat. Glimlaggend skud ons ons koppe vir die hoender. “Jy moet ’n lekker dag hê,” het ek darem nog ingekry voordat die ou weer in sy kar weggevlieg het.

Sjoe, ’n mens kry darem snaakse mense.

Hoekom vertel ek die storie? Ek wil eintlik die ou se optrede toets teen wat Paulus vir ons sê oor die liefde. Die vraag is: Hoe voldoen hy of hoe voldoen hy nié aan die liefde deur sy optrede:

Die liefde is geduldig. Vir seker nie!

Die liefde is vriendelik. Nog nooit gesien nie!

Die liefde is nie afgunstig nie. Was my kar dalk vir hom mooier as sy eie?

Grootpraterig. Die ou het vir seker gedink hy is beter, groter, meer as die ou agter hom.

Verwaand. Mag so wees…

Die liefde handel nie onwelvoeglik nie. Wel, die ou se hele optrede is onwel.

Soek nie sy eie belang nie. Ah, het die ou hier aan ander gedink? Vir seker nie.

Is nie liggeraak nie. Ah. Nog ene wat hy met vlieënde vaandels gepluk het.

Hou nie boek van die kwaad nie. Ek weet nie hoe lank die ou nog die insident gaan onthou nie. Wat ek wel ervaar het, is ’n stuk van die kwaad waarmee die ou reeds daar aangevlieg gekom het.

Verbly hom nie oor onreg nie. Ek weet nog minder wat die ou voel oor onreg, maar in die doen daarvan is hy uitstekend.

Liefde is verheug oor waarheid. Nee wat. Hier maak hy dit ook nie, want die waarheid wat daar gebeur het, het hy reeds tot sy guns verdraai.

Ok, hy maak eintlik nie een nie en kry 0 uit 100. Eintlik wil ’n mens sê: Stupid, né. Ek is darem nie só erg nie. Maar as jy jouself teen elkeen gaan toets, sal jy gou agterkom dat jy dit een of ander tyd ook nie gemaak het nie. Te gou wys ons die vinger en vergeet dat drie terug wys.

Hier is dalk te veel om te onthou, maar kom ons lees en leef: 4 Om ander lief te hê beteken om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie; om altyd alle mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel; om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie; om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie; om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie;5 om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie ongemaklik saam met jou voel nie; om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie; om nie sommer vir niks kwaad te word nie, en om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie.

Om oor na te dink

Is daar dalk iets waaraan jy ook moet werk?

Lees weer deur die paar verse.

Probeer vandag om die liefde sigbaar te maak.

Gebed

Here, ek besef dat daar nog so baie is wat ek moet leer. Daar is nog so baie wat ek moet verander in my manier van optrede. Ek moet meer van U liefde binne my uitleef na buite. Help my asseblief! Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek