’n Nuwe dieetplan
Ek sukkel met my gewig.
Oor die afgelope jare kruip my gewig net al hoe hoër en hoër. En tog kyk ek na wat ek eet. Veral in die week, maar so oor die naweek gly my clutch.
Ek het al baie gespekuleer en selfondersoek gedoen oor waar die fout nou eintlik lê. Ek vermoed een van my grootste foute is dat my vol-knoppie stukkend is. Die naweek gaan kyk ek Saterdagaand laat na die Springbokke by my tjommie. Ek het klaar geëet en is nie van plan om nog iets die aand te nuttig nie. Maar daar staan toe ’n allamintige bak droëwors so reg voor my. Net mooi ’n armlengte ver.
Ek het met die eerste stukke se vat vir myself mooi gesê dat ek moet stadig. Wel! Nodeloos om te sê: Ek het daai bak omtrent op my eie ge-polish. En dit nogal op ’n reeds versadigde maag. Dis die vol-knoppie wat buite werking is se skuld!
Met my hande in my hare maak ek ’n afspraak by die tannie wat weet van kos en hoe ’n mens dit moet eet. Sy verduidelik vir my mooi van koolhidrate, stysel, proteïne en vrugte en dat ’n mens elke dag ’n porsie van elk moet inkry. Sy sit baie klem op die “ie” van porsie.
Dis asof ’n nuwe wêreld vir my oopgaan. Ek besef dat ek gewoond geraak het aan ’n manier van eet wat vir my lekker was, maar nie noodwendig goed nie. Die gevolg van die manier van eet was egter nie baie positief nie. Ek het my eie tjoepie om my middel gekweek wat my erg ongemaklik laat voel het. Ek het gesukkel om my veters vas te maak en was sommer gou uitasem. My cholesterol was ook deur die dak en die risiko baie hoog om vroeër by die lewe uit te check.
Ek het ’n pen in die grond gekap en gesê dis tyd vir nuwe dinge. En nee, ek is nie op een van daai diëte waar jy soos ’n bok gras en blare eet en met so ’n vêr uitdrukking in jou oë staar as jy verby die yskas stap nie. Die kostannie het my net geleer van die regte kos op die regte tyd in die regte hoeveelhede.
Kom ek wees eerlik. Dit was nie so maklik nie. En ja, so nou en dan het die clutch gegly. Maar ek moet sê dis oor en oor die moeite werd. Hierdie nuwe eetgewoontes laat my goed voel. Ek het weer hope energie. Die lewe is ’n lied.
Net so het ons ’n nuwe manier van leef deur Jesus gekry. Eintlik het ons ’n splinternuwe stel klere gekry om aan te trek. 10God het egter vir julle ook ’n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God.
God kom trek ons uit die modder en sê dis tyd vir ’n nuwe lewe. ’n Lewe waar ons weer nuwe krag kry en kan sing dat die biesies bewe en waar ons in die oggende kan opstaan en fluit in die stort.
Hier leer ons dat die vuil lewe met die vuil klere waaraan ons so gewoond geraak het, nie die standaard is nie. Daar is ’n baie beter lewe.
Ai, ek wens so ek kon sê dat dit maklik was om die nuwe klere aan te trek, maar dit is nie. Net soos ek gehunker het na die ou lewe van baie eet, hunker ’n mens terug na die ou lewe met die vuil klere. Maar gelukkig raak dit al hoe minder, want hoe meer ’n mens die nuwe lewe ervaar, hoe meer die energie loskom, hoe nader ’n mens aan God groei, hoe lekkerder raak dit.
Teks
Om oor na te dink
Hoe lyk jou klere?
Hoekom?
Wat moet jy anders in jou lewe doen?
Gebed
Vader, U wil hê dat ons as nuwe mense moet leef. U wil hê dat ons moet wegkom van alles wat nie goed is vir ons nie. Help ons om te onderskeie tussen dit wat U wil is en dit wat nie goed en reg is nie. Help ons om te smag na die goeie. Amen.