God se Woord in vandag se woorde

’n Oor wat luister


Pieter is ’n gewone besigheidsman, maar in sy een-sin-e-pos aan my, klink hy soos ’n groot filosoof. Sy woorde is so eenvoudig, maar as ons dit kan regkry, gaan die wêreld heel anders lyk:

        Ons onderskat dikwels die krag van ’n aanraking, ’n glimlag, ’n   vriendelike woord, ’n oor wat luister, ’n eerlike kompliment of die kleinste deernisvolle daad almal met die potensiaal om ‘n lewe om te keer.

Elkeen van hulle ’n punt vir ’n preek, maar die een in die middel spring vir my uit. Ons moet luister. Ons moet ons ore so stel, dat ons rêrig hoor as iemand met ons praat.

So baie keer is ons op ons foon besig om iets te lees of iets te tik en wanneer iemand ons roep, sê ons ja en hou terselfdertyd aan waarmee ons op ons foon besig was. Ons luister, maar ons hoor nie eintlik nie.

Ons almal doen dit.

’n Vrou kry ’n oproep van haar man. Hy sê hy is moeg. Hy kan nie so aangaan nie. Die lewe druk net te veel. Hulle hoef nie te worry nie, daar sal genoeg vir hulle wees om van te lewe. Hy het net na die oproep sy lewe geneem.

Dit was nie die eerste keer dat hy gesê het dat hy nie meer kan nie. Dit kom al ’n lang pad, maar die mense om hom het nie geluister nie. Hulle het nie sy hulpkreet gehoor nie. Totdat dit te laat was.

Ja, ek weet die lewe hardloop teen ’n groot spoed en as jy êrens gaan stilstaan gaan jy affoeter, of so dink ’n mens. Tog is dit so belangrik dat ons sal gaan stilstaan, sal aftrek en langs die pad gaan staan as iemand met ons praat.

Ons moet ’n oor wees vir die mense wat praat en nie na geluister word nie. So kan ’n mens dalk net ’n lewe red.

Die geliefdes om ons se woorde verklap wat in hul hart aangaan. Tussen die reëls van hul gebroke woorde, lees ’n mens van die swaar en sien jy die vrae raak. Dis hier waar ons ’n werklike verskil kan maak, as ons ’n oor gooi en werklik luister.

19Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit elke dag kan sien: julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het.

Die probleem is dat ons klaar ons gedagtes opgemaak het oor wat die persoon wil of gaan sê. Ons het nie tyd om te mors nie en begin sommer klaar te sê wat ons dink die ander persoon moet hoor.

Ai, en hoeveel keer het ons nie al die pot misgesit nie? Hoeveel skade kon ons nie al verhoed het, as ons net die ander persoon genoeg tyd gegee het om hul storie klaar te vertel nie?

Plak ’n sticker êrens op. Sit die wag voor jou mond. Plaas ’n delay of vertraginsmeganisme voor jou mond en praat liewer later en luister en hoor eers.

Teks
Jakobus 1:19-27

Om oor na te dink
Hoekom sukkel jy om te luister?
Vir wie moet jy meer tyd gee voor jy praat?
Wat kan jy doen om eers te luister?

Gebed
Vader, ek weet dat hierdie ’n flaw in my is. Dis hoe ek is. Baie keer gee ek mense nie tyd om hulle sê klaar te sê nie. Help my om net ’n tydjie te pause voor ek my ding sê. Help my om te luister en te hoor. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek