God se Woord in vandag se woorde

‘n Paar 20c stukke vir die waarheid


2 Korintiërs 4:1-6

My Ma was ’n ongelooflike vrou. Sy moes ses woelige kinders grootmaak. Sondae in die kerk het sy nie ’n millimeter geroer nie, al het sy hier onderlangs al ses kinders in toom gehou, want sy was immers die predikantsvrou. Een ding wat ek nooit van haar sal vergeet nie, is haar 110% eerlikheid. Sy het ons geleer om in alle gevalle 100% eerlik te wees en om dit wat jy bedoel, te sê en nie eens ruimte te maak vir ’n wit leuentjie nie.

Ek het al die storie oor my Ma en die waarheid vertel, maar dis so ’n mooi storie dat ek dit graag weer deel. My ouer broer was in die weermag in Bloemfontein en elke Sondag het hy huistoe gebel. Dan gesels hy lekker en hy werk sommer die gesin deur van die oudste tot die jongste. My Ma was nie onder ’n hoender uitgebroei nie en het gou sommetjies gemaak oor die koste van die telefoonoproepe teenoor ’n jong soldaat se inkomste. Êrens is ’n vlieg in die salf. Toe hoor my Ma van ’n lang tiekie (dis nou as jy ’n tou aan ’n twintigsent-stuk vasmaak en elke keer as die foon weer ’n geldjie nodig het om jou langer te laat praat, gee jy die tou net ’n ruk, dan is daar weer tyd om te praat). Ek kon sien dit het haar vreeslik ontstel. Na die gesprek met hom het sy altyd haar handsak gevat en ’n entjie gaan stap.

Dit was eers ’n paar jaar later toe sy ons vertel het dat sy na die naaste munt- telefoon gestap het om ’n paar 20c stukke te gaan ingooi vir die wat my broer nou nie ingegooi het nie. 110% eerlik!

In vers 2 gee Paulus vir ons die goeie raad: 2Ek bly weg van al daardie lelike dinge wat mense in die geheim aanvang. Ek bedrieg nooit ander mense nie. En ek verdraai nie God se woord om by my eie sienings te pas nie. Inteendeel. Ek praat oop en bloot oor die waarheid. Mense kan daarom elke woord glo wat ek in die teenwoordigheid van God uitspreek.

Selfs in die besigheid word ’n mens kort-kort versoek om ietsie onder die tafel deur te vat of die Ontvanger deur die ore te werk. Dit is groot aas met klein hoekies aan wat die duiwel vir ons uitgooi om aan te pik. Pik-pik nog so aan die lekker los geldjies wat ons so kontant in ons beursies druk en voor jy jou kom kry, sluk jy die groot hoek in. Later kan jy nie meer sonder die geld deurkom nie en jy is vasgevang in ’n kringloop wat wegkruip vir die waarheid.

’n Vriendin van my is moedeloos, want sy is alleen en haar verhoudings wil net nie werk nie. Sy is bereid om enige iets te doen vir ’n stukkie liefde, daarom duik die waarheid so nou en dan in die modder. Ek sê vir haar dis juis die rede hoekom haar verhoudings nie werk nie. Dit help nie jy steek jou skuld weg nie. Dit help nie jy los jou vuil wasgoed onder die bed nie. Een of ander tyd loop iemand terloops daar verby. Kroekies braai uit.

Kom ons staan vir die waarheid. Kom ons probeer met ekstra krag van Bo om die regte dinge te doen en te praat. Kom ons wees eerlik en doen alles bo die tafel. Kom ons giet ons woorde in die Waarheid van God en “praat oop en bloot die waarheid.”

 Om oor na te dink

Waar pla iets?

Moet jy iets gaan regstel?

Hoe gaan jy dit doen?

Gebed

Here, help my om elke dag naby aan U te leef, want wanneer ek naby aan U is, skyn U lig oor my en ek kan opstaan teen die dinge van die donker. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek