’n Pakkie vir ’n prys
Daar was ’n stadium in my lewe toe ek vir elke kompetisie wat daar was ingeskryf het. Ek wou so graag ietsie wen. Ek wou so graag ’n pakkie met my naam by die poskantoor gaan optel. Ek het al in my geestesoog gesien hoe ek die pakkie oopmaak en die groot geskenk vir my uithaal, maar nodeloos om te sê, dit was my nie beskore nie.
Dit laat dink my nou aan my weermag dae daar aan die grens. Kyk nè, daar het ’n mens mos die wêreld se tyd en kom jy met die kreatiefste idees na vore. Met die groot lus vir ’n pakkie by die poskantoor, trek ek ’n pen nader en skryf vir Simba ’n pragtige brief.
Ek kan nie meer alles onthou wat daarin gestaan het nie, maar ek weet dit was soetsappig en dat die afsluiting plus-minus soos volg was: En as ’n soldaat ’n pakkie van die States ontvang en daar is nie ’n produk van Simba in nie, was die pakkie maar ’n flop.
Groot was my verbasing toe daar ’n moewiese pakkie van Simba aankom met al hul lekker produkte, genoeg vir al die manne in die tent om vir ’n paar dae lekker saam te smul. Sjoe, dit was so lekker om ’n pakkie vol geskenke by die poskantoor te gaan optel.
Toe dit werk met Simba, het ons natuurlik vir alle groot maatskappye die mooi soetsappige briewe gestuur. Ek moes gereeld my pakkie by die poskantoor gaan optel. Dit was so lekker om al die produkte as geskenk te kry. Ek onthou nog in Cadbury se pakkie was ook nuwe sjokolades wat nog nie eers op die mark was nie.
Ek onthou ook Gants Foods (hulle het blikkieskos gemaak) se pakkie: Net ’n resepteboek! Ek sal nou nie die manne se kommentaar hier herhaal nie …
Ek moes maar my eie “pryse” genereer met mooi briefies aan die groot maatskappye. Maar die opgewondenheid om die pakkie by die poskantoor op te tel, die paadjie terug na die tent en die oopmaak daarvan was altyd ’n groot opgewondenheid in ons tent.
My vrou is meer gelukkig met kompetisies. Net nou die dag koop sy drie sjokolades en skryf daarmee in vir ’n kompetisie. En wraggies waar hier bel hulle. Sy moet Spar toe kom en haar prys kom optel. Nogal ’n kisvrieskas. Groot was die opgewondenheid.
Tog wag daar ’n groter opgewondenheid op ons wat in God glo. By die hekke van die hemel sal ons elkeen ’n groot prys wen. Kyk net hier: 8God sal vir my die prys gee wat sal sê dat my saak met Hom heeltemal reg is. Wanneer God besluit om die prysuitdeling te hou, sal die Here, wat die pryse regverdig sal uitdeel, vir my my prys gee. Nie net ek sal ’n prys kry nie, maar almal wat daarna uitsien dat Christus Jesus weer moet kom.
Sien jy die prentjie waar jy instap in die hemel en die oorwinnaarskroon word op jou kop gesit? Sjoe, ek sal op en af spring van opgewondenheid. Ek weet die trane sal oor my wange rol. My mond sal oophang, want eintlik sal ek dit nie kan glo dat ek dit gemaak het nie. Ek sal my arms omhoog gooi en stil gaan staan en alles net indrink.
Wat ’n vooruitsig! Iets wat almal van ons wat in Jesus glo, gaan wen.
Gaan leef daarom die lewe as ’n wenner. Weet wat jou identiteit in Jesus is en gaan lewe so dat Hy eendag ook nie kan wag om ’n kroon op jou kop te sit nie!
Teks
2 Tim 4:6-8
Om oor na te dink
Sien jy uit na die prysuitdeling?
Sal dit maklik wees vir Jesus om jou kroon op te sit?
Is daar êrens ’n paar aanpassings wat jy moet maak?
Gebed
Jesus, ek sien so uit daarna om U te sien. Ek sien uit om my oorwinnaarskroon te ontvang. Dankie dat U dit vir my moontlik gemaak het om daar by U te kom woon. Amen.