‘n Pot om op trots te wees – Romeine 9:14-29
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 9:14-29
Vriende van ons is onderwysers. Hulle vertel dat die skool ’n besoek kry van die Departement. Blykbaar is dit ’n baie groot inspeksie waar alles, maar alles in die skool ondersoek word. Of dit nou ’n onderwyser is en of dit ’n terrein beampte is of ’n sekretaresse. Elke dingetjie word opgelig en onder die vergrootglas gesit. Na die week lange geloer deur die vergrootglas kom daar dan gou ’n lywige dokumente met voorstelle van waar en hoe daar verbeter kan word sodat die skool nog meer effektief kan wees en die resultate nog beter.
Dit is nodig dat elke instansie gereeld so onder ’n vergrootglas gesit word. ’n Besigheid moet sy state gaan deurwerk en kyk dat hulle op ’n positiewe kurwe ry en die onsekere toekoms gereed tegemoet storm. Selfs die mense moet so nou en dan onder die vergrootglas staan om seker te maak dat elkeen sy pond vleis na die tafel toe bring.
Paulus kom staan met ’n vergrootglas oor ons en kom vra ook die vraag of ons ’n positiewe bydrae lewer. Doen jy jou bydrae deur ’n pot te wees wat gebruik kan word? Kan daar iets in jou gemaak word wat tot voordeel van ander is? Is God gelukkig as Hy so deur die vergrootglas na jou pot kyk of is Hy beangs as Hy die krake sien?
22God kan dieselfde met ons doen. Sommige mense hier op aarde is soos kleipotte waarvan God net mooi niks hou nie. Hy staan reg om hulle met sy groot krag te vernietig. Tog verdra Hy hulle geduldig. 23Op dié manier wil Hy wys hoe groot sy goedheid is oor al daardie mense met wie Hy tevrede is. Hulle is die kleipotte op wie die hemelse Pottebakker baie trots is. God het vir hulle ’n plek in sy nuwe wêreld voorberei. Daarom stort Hy sy genade in oorvloed oor hulle uit.
As jy na jou pot kyk, wil God ’n hamer gaan haal?
Hier is alweer ’n klomp vrae en dit is nie lekker nie. Wanneer mens deur ’n vergrootglas kyk, sien jy gou die krakies raak en dan verdien ons eintlik om deur ’n hamer in klein stukkies opgekap te word.
Tussen God se almagtigheid wat aan die eenkant potte kan stukkend kap, is daar ’n genadige God wat potte met krake en gate verdra. Eintlik verdien die pot wat nie lekker lyk nie om op die ashoop gegooi te word, want dit beteken vir niemand iets nie. Maar God sien die potensiaal. God droom. Hy droom dat die pot tog eendag gaan besef wat dit kan doen. God droom dat die pot sal wakker skrik. Daarom gee Hy weer en weer en weer ’n kans. Dis God. Dit is genade.
Ek weet ons almal het krake in ons potte. Ek weet daar is sommige van ons wat gate in het en skeef staan. Maar laat dit ons nie weerhou om te doen wat ons moet doen nie. Kom ons gryp die genade van God aan. Kom ons gryp die kans aan en begin ons gawes te gebruik net daar waar ons is en kom ons maak ’n verskil oral waar ons gaan. Mag God dan eendag ook vir jou sê: Goed gedaan my kind. Ek is trots op jou.
Om oor na te dink
Hoe lyk jou pot?
Sal God trots wees?
Waar kan jy ’n verskil maak en ’n bruikbare pot wees?