God se Woord in vandag se woorde

‘n Pot om te gebruik – Romeine 9:14-23


pot om te gebruikKliek hier om die teks te lees: Romeine 9:14-23

Ons mors baie keer met God in ons gedagtes. Ons sien God as hierdie liefdevolle ou man wat op die stoel sit met al die klein babatjies op sy skoot. Ja, God loop oor van goedheid, maar God is ook regverdig en Hy straf ook.

Uit sy Godheid neem Hy ook partymaal besluite wat ons as gewone mense nie verstaan nie. Mense wie se harte verhard is, verhard Hy nog meer. Ek verstaan nie altyd hoe God werk nie, wat tog ook reg is, want as ek vir God heeltemal kon verstaan, was Hy eintlik nie meer God nie.

Dit is God se besluit vir wie Hy sal jammer kry en wie nie: 15… “Ek sal daardie mense jammer kry wat Ek wil jammer kry. Ek sal genade bewys aan wie Ek genade wil bewys.”

Dis God wat hier praat. Wie is ons mense dan om te wil heers en maak wat ons wil? Wie is ons mensies tog om planne te maak oor hoe ons dit beter sou doen? Wie is ek dan om vrae te vra oor hoe ek gemaak is? Die pottebakker maak wat hy wil met die stuk klei. Uit een stuk klei kom daar ’n pot waarvan hy hou en dalk een waarvan hy nie hou nie.

Net so is daar mense van wie God hou en van wie Hy nie hou nie. Gelukkig gooi God nie die potte stukkend waarvan Hy nie hou nie. 22… Tog verdra Hy hulle geduldig. 23Op dié manier wil Hy wys hoe groot sy goedheid is oor al daardie mense met wie Hy tevrede is.

Is dit dalk juis die kans vir die pot om homself reg te ruk? wonder ek.

Ek en jy is die gevolg van die pottebakker. God het my en jou as pot gemaak soos wat Hy gedink het die beste sal wees. Is jy ’n ornamentele pot wat God verdra, maar waarvan Hy nie eintlik hou nie? Of is jy ’n pot wat iets doen, wat jou funksie dien soos wat God dit bedoel het toe Hy jou gemaak het?

’n Stuk van vers 13 vertaal die Boodskap as volg: … Hy roep mense na Hom toe sonder dat Hy eers na al hulle goeie en slegte dade kyk. Baie maal sien ons onsself as ’n pot wat vol krake en gate is wat niks kan inhou nie, waarmee niks gedoen kan word nie. Ja, miskien lyk ons so, maar dit beteken nie dat God ons nie kan gebruik nie! God ken van patch en solution. Hy weet presies hoe jy in mekaar gesit is, want Hy het jou met sy hande gevorm. God roep jou soos jy is. Hy wil jou gebruik. Gelukkig word ons uit genade gered en nie oor hoe ons lyk nie, want dan sal nie een van ons dit maak nie!

’n Dominee van Jan Kriel skool (skool vir gestremdes) kom preek op ons dorp. Hy preek oor die disable wat able word. Hy vertel van die Olimpiese Spele vir gestremdes waarvan hy die bestuurder was. Madré, toe nog ’n 15-jarige dogter van die gemeente wat ook daaraan deelgeneem het, het vorentoe gekom met ’n sak vol goue medaljes. Trots, maar kon nie veel sê nie, want sien, sy is ook verstandelik gestremd. Maar wanneer sy op haar driewiel fiets klim, verander haar disablity na ablity.

Die dominee vertel van ’n Australiër wat geen arms en net een been het. Toe die skoot klap, spring/duik/val hy saam met die ander in. Hy swem soos ’n vis, op en af, net met sy maagspiere en een been. Toe hulle draai is hy eerste, maar die ander begin hom inhaal. In jou kop wil jy vir hom skree: steek net jou arm uit, dan sal jy wen, maar dan onthou jy dat daar nie eens een is nie. Met sy kop wat voluit kap teen die rand wen hy die resies, maar moet dadelik uitgetel word, anders verdrink hy.

Kyk net hoe gebruik die Pottebakker hierdie kruike van hom. Ander wou dit weggooi, want dit was nutteloos.

En jy, my vriend, met al jou bene en arms en brein en oë en mond en ore en…

Om oor na te dink

Hoe sien jy vir God?

Watter gawes het jy?

Waar kan jy dit nou gebruik?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek