God se Woord in vandag se woorde

’n Rots met kleivoete


Ons begin met die eerste brief wat Petrus, die apostel van Jesus, geskryf het. ’n Brief wat vir my en jou sal help om elke dag soos ware kinders van God deur die lewe te stap.

Wanneer ek aan Petrus dink, is die eerste beeld wat in my kop opkom waar hy Jesus verloën. Jesus het dit nogal voorspel, maar Petrus het dit ten sterkste afgemaak. “Nee, ek sal nooit vir U, my Verlosser, verloën nie,” het hy nogal breedborstig uitbasuin.

En toe die paw-paw die fan strike, raak Petrus bang. Hy is verwilderd. Sy drome is aan skerwe en sonder om te dink, glip die woorde uit: “Ek ken Hom nie!” Sommer drie maal in ’n ry.

Dis seker menslik. Ons reageer ook so. Wanneer ons in ’n hoek vasgeverf is, wanneer ons verdedigingsmeganisme inskop, gryp ons terug na ons oorspronklike menswees en ons kies die roete met die minste weerstand.

Die meeste van die kere is dit die foute en verkeerde keuses wat in mense se gedagtes agterbly. As my oud-onderwysers my naam hoor, kom al die poetse wat ek gebak het en al die kere wat ek skool gebank het by hulle op. Dit vorm hul prentjie van my.

Dis seker dieselfde wanneer ek aan Petrus dink. Die prentjie wat eerste in my gedagtes opkom, is die haan wat kraai. En tog gee Jesus vir Petrus ’n nuwe naam wat rots beteken. Sy geboortenaam was Simon.

Jesus sien nie meer die verkeerde keuse van Petrus raak nie. Hy sien nie sy wankelrige bene wat in tye van nood na sy default teruggegryp het nie. Hy sien hom eintlik raak as die man waarop Jesus Sy kerk wil bou.

Dis die Petrus wat ons vir die volgende maande gaan help om as ware kinders van die Here deur die lewe te loop. Ons gaan die twee briewe behandel wat hy vir al die nuwe Christene, waar hulle ook al in die wêreld was, geskryf het.

’n Gewone visserman, met geen teologiese opleiding nie. ’n Man wat gewoonlik vinnig uit die blokke was en wat nie bang was om ’n graaf ’n graaf te noem nie. Die man met die voete van klei wat op die ou end die rots word.

Ja, van die begin af het Jesus Simon Petrus gesien as die rots waarop die kerk gebou gaan word.

Dit gee vir my hoop. God gebruik ’n ou wat moontlik die leier van Sy span van 12 hier op aarde was, wat Hy gesien het as die rots waarop Sy kerk gebou sou word en tog sou dié man Hom op ’n dag verloën.

So kan en wil God ook vir my gebruik. Dalk nie om ’n boek in die Bybel te skryf nie, die kanon is in ieder geval klaar vas. Nog minder wil God my gebruik om die rots te wees waarop Sy kerk gebou word, want dié is klaar gebou.

Maar God wil vir my en jou gebruik, maak nie saak hoe dom ons keuses is nie. Maak nie saak hoe krom ons stokke is nie, God wil ons gebruik net daar waar ons is. Mag ons almal vandag ons swak selfbeeld of ons skuldgevoelens opsy stoot en weet en glo God kan en wil ons gebruik.

1Petrus, wat spesiaal deur Jesus Christus gestuur is, het hierdie brief geskryf.

Teks
1 Petrus 1:1-2

Om oor na te dink
Wat leer jy by Petrus?
Glo jy dat God jou ook roep om ’n verskil te maak?
Waar?

Gebed
Vader, soms voel ek nie goed genoeg om vir U iets te doen nie. Tog weet ek dat U alle mense gebruik, maar nie saak van hulle agtergrond of wat hulle gedoen het of nie gedoen het nie. Hier is ek. Gebruik my ook, Here. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek