God se Woord in vandag se woorde

’n Taxibestuurder wat reg kies


Baie kinders van God sit die pot mis deur te dink hulle moet hulle bes probeer om nie sonde te doen nie. Elke oggend as hulle opstaan, bid hulle kliphard dat hulle nie in die strikke van die wêreld sal trap nie en dat hulle staande sal bly teen die woeste winde van die bose.

As hulle vanaand by die huis kom en op die bank neerploeg, voel hulle goed dat hulle die versoekings van die lewe gesystap het. Maar eintlik mis hulle die punt, want om uit die pad van die sonde te bly, is maar net die een kant van die munt. Die ander kant is dat ons moet soek na plekke waar ons goeie dade kan doen. Plekke waar ons ’n verskil kan maak in mense se lewe.

Ons moet bewustelik probeer om binne God se wil te lewe: 11… jy is God s’n. Bly weg van al hierdie slegte dinge af. Doen eerder jou bes om so te leef dat God met jou tevrede voel.

Doen jou bes, probeer regtig hard, sit baie energie daarin om ’n lewe te leef wat reg is. Die ou vertaling gebruik die woord geregtigheid. Geregtigheid beteken maar net om reg te lewe. Deur die dag kom ons by kruispaaie waar ons keuses moet maak en die meeste van die kere is dit keuses tussen reg of verkeerd.

In die besigheidswêreld moet ons kies tussen die geld onder die tafel vat of nie. In ons verhoudings moet ons kies of ons ons humeur gaan verloor of nie. Gaan ons getrou bly aan ons maat of nie? Gaan ons binne die spoed bly? Gaan ons vat wat ander s’n is? Gaan ons ons werkgewer se tyd steel? Gaan ons daardie bo 18 webwerf oopmaak of nie? Gaan ons die persoon in nood help? Gaan ons opstaan van die bank en die bure help wat so sukkel?

Wat is die regte ding om te doen?

Ons word elke dag keer op keer gekonfronteer met keuses om die regte ding te doen.

Hoor die storie wat Aalwyn (skuilnaam) vertel:

Ons het verlede jaar die Amashova fietswedren van Pietermaritzburg na Durban gaan ry.

Om nou ’n lang storie kort te maak, by die beginpunt aangekom is my vrou se fiets nie meer op die sleepwa nie! Haar fiets het iewers langs die pad los gekom en afgeval – net die voorwiel was nog daar.

Ek het my naam en selnommer op die fiets geplak ingeval my vrou langs die pad iets sou oorkom.

Later die dag, toe almal al klaar was met die wedren, bel ’n man my. Hy het ’n fiets op die snelweg opgetel. Sonder ’n voorwiel. Hy het in al die bosse langs die pad gesoek na die fietsryer, maar kon niemand kry nie.

Ons het gereël om mekaar op ’n plek te ontmoet. Groot was ons verbasing toe ’n Taxibestuurder ons fiets uit sy taxi haal en aan ons teruggee …

Ek wonder hoe groot was die glimlag op God se gesig toe Alwyn en sy vrou stop en sien die taxi se deur gaan oop en hier kom haar fiets sonder die voorwiel uit. Dit was die regte ding om te doen, né!

Mag God ons help om soos die taxibestuurder elke keer reg te kies. Mag God ons help om bewustelik reg te kies en die regte dinge te doen. Heeldag lank!

Teks
1 Timoteus 6:11-16

Om oor na te dink
Kies jy altyd reg?
Waar sukkel jy?
Is God tevrede met jou?

Gebed
Here, dis nie altyd maklik om die regte keuse te maak nie. Help my om gehoorsaam te wees wanneer U Heilige Gees hier in my binnekant fluister. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek