God se Woord in vandag se woorde

’n Traan in die oog of ’n glimlag


Ons staan die afgelope tyd stil by die sonde in ons lewe. Ek het agtergekom dat as daar ’n paar keer oor die sondes wat ons doen, gepraat word, klik mense gou op die unsubscribe-knoppie of draai die radio sagter.

Mense hou nie daarvan om op die verkeerde goeters wat hulle doen, gewys te word nie. Maar eintlik moet ons onthou dat ons almal in sonde gebore is. Ons almal het ’n flaw. Êrens langs die pad is die kans goed dat ons almal ’n verkeerde keuse gaan maak of oor die grense van die lewe gaan bars.

Dit kom saam met die pakkie. Dit is deel van ons mondering. Hiermee moet ons vrede maak. Dit beteken egter nie dat ons die verkeerde dinge in ons lewe moet aanvaar, ruimte vir hulle maak en maar God se water oor God se akker laat stroom nie.

Op ’n manier word ons so-effe voor die bors gegryp: 8… Wees hartseer oor alles wat julle verkeerd gedoen het. Moenie dink julle verkeerde lewe is sommer niks nie. 9Dit is iets waaroor julle baie sleg moet voel. Julle behoort daaroor te huil. Vee die glimlag van selftevredenheid van julle gesig af en wys hoe jammer julle oor julle sondes is. In plaas van die lag van vrolikheid moet daar die traan van skuld en rou wees.

Miskien moet jy dit weer lees.

Ek vermoed werklike berou daag eers op as ons selfondersoek gaan doen. Dan sien ons waar ons buite God se wil leef. Dan sien ons wat ons aanvang en wat die impak daarvan op ander mense is.

Sonde het die geneigdheid om verhoudings stukkend te slaan. Sonde ruk aan ’n mens se selfbeeld en voor jy jou kom kry, is jou eiewaarde ook daarmee heen en daag ’n mens op by: so gemaak en so gelaat staan.

En dis presies waar die duiwel ons wil hê. Dis egter nie God se idee vir ons nie.

Ja, ons moet selfondersoek doen. Ons moet ’n slaggie gaan kyk na wat ons aanvang en wat die impak van ons verkeerde dade is. Ons moet gaan kyk waar die sonde soos kanker in ons lewe vreet.

Hierdie prentjie moet ’n traan of baie in ons oë laat lê, want dis vir seker nie deel van God se plan nie. Eintlik maak dit vir God ook seer en dis juis hierdie wete wat ons nog erger laat voel oor ons doen en late.

Hierdie traan moet ons dan juis aanvuur om iets te begin doen aan die sonde in ons lewe. Ons moet planne maak om ontslae te raak van verkeerde gewoontes sodat dit nie meer amok saai in ons en die mense rondom ons se lewens nie.

Kom ons ruk sondige dade uit en maak plek vir ware vreugde in ons lewe sodat God oor elkeen van ons kan glimlag.

Teks
Jakobus 4:7-12

Om oor na te dink
Waar lê die sonde?
Loop jou trane?
Wat moet jy daaraan doen?

Gebed
Vader, ek is baie skaam oor wat ek gedoen het. Eintlik wil ek dit nie eers na U toe bring nie. Help my om dit te stop. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek