’n Verloorder maak nie ’n wenner nie
Die spreekwoord sê mos dat as jy nie iets moois van iemand kan sê nie, sê dan eerder niks nie. En dis nie so maklik nie.
Ons was ’n klompie vriende wat gaan kamp het. Die een ou was nie lekker nie. Hy was die heeltyd op die rand besig met sy foon. As ons om die vuur gesels, gesels hy met sy nuwe liefde. As ons gaan stap, bly hy agter en moet sogenaamd die kamp oppas.
Toe ons terug in die beskawing was, vra almal ons hoe die kampnaweek was. En elke keer vang ek my dat na ek gesê het hoe lekker dit was, ek eers die prentjie inkleur met die een vriend wat die randfiguur was en natuurlik maak ek die pap nog dikker aan om al die verkeerde dinge wat hy gedoen het, in die kollig te sit.
Na ek dit die hoeveelste keer oorvertel het, begin ek myself bevraagteken. Hoekom vertel ek vir mense wat my randfiguur-vriend van g’n Adam se kant ken nie? Het ek negatiewe nuus nodig om my storie meer vorm of diepte te gee? Kry ek lekker? Voel ek beter omdat daar iemand is wat meer verkeerde dade as ek het?
Met ’n skok besef ek dat op die laaste drie vrae ’n klipharde “ja” kan skree! Ek sê slegte dinge van ander, sodat ek in ’n beter lig gesien kan word. Dalk doen ek dit nie altyd doelbewus nie, maar sodra ek ander mense se sondes vertel, verskuif die kollig weg van my af. Dit maak my ongelukkig nie ’n wenner om ’n ander ’n verloorder te maak nie.
Dalk moet ek dit weer sê, sodat dit in my lobbe kan vasval: Dit maak my nie ’n wenner om ’n ander ’n verloorder te maak nie. Eintlik is hier geen wenners nie!
Daarom die opdrag: 3… Sê vir hulle dat hulle lewe moet wys dat hulle die Here ken. Hulle mag niks leliks van ander mense sê nie.
Maak gou saam met my die som van die twee sinne. As jy iets leliks van ander sê, dan wys jou lewe dat jy nie vir Jesus ken nie. Jy sien, ons besef nie altyd dat dit wat hier by ons mond uitkom die deur van ons hart oopstoot vir almal om te sien wat daar aangaan nie. As ons so van ander skinder en ander slegsê, is die prentjie wat mense hier uit ons hart sien nie rooskleurig nie. Die prentjie wys nog minder dat ons kinders van Jesus is.
Baie van ons sukkel hiermee. Baie van ons weet nie eers dat ons die probleem het nie, maar soos die Engelsman sê: “Take note!”. Sit ’n wag of twee voor jou mond. Nee, sommer binne-in jou mond, sodat hulle jou lippe kan toedruk, nog voordat die negatiewe woorde van ander daaroor val.
Kom ons maak ’n belofte teenoor mekaar dat ons regtig gaan probeer om net mooi van ander te sê en eerder stil te bly as ek nie iets moois kan sê nie.
Is jy in?
Teks
Tit 2:1-5
Om oor na te dink
Glip daar soms iets negatief oor ander uit jou mond?
Dink jy jy moet daarmee stop?
Hoe?
Gebed
Here, ek is jammer dat ek so graag ander se foute uitlig, en dit terwyl ek my eie foute het! Vergewe my asseblief en help my om op te hou dink en praat oor ander se foute. Amen.