God se Woord in vandag se woorde

‘n Vuur wat in ons moet brand – 1 Korintiërs 1:1-3


n vuur wat in ons moet brandKliek hier om die teks te lees: 1 Korintiërs 1:1-3

In die volgende paar maande stap ons deur die brief van Paulus aan die Korinte.

Op Paulus se tweede sendingreis het hy vir amper 2 jaar in Korinte gebly. Korinte was ’n groot metropolitaanse stad wat naby twee kusdorpe geleë was. Die stad se moraliteit was nie te goed nie en hulle was bekend vir hul seksuele misdade. Met die hulp van Silas en Timoteus het Paulus die Evangelie verkondig. Eers aan die Jode, maar toe hulle nie wou luister nie, het Paulus-hulle die fokus na die heidene verskuif. Baie mense het tot bekering gekom en ’n kerk is daar geplant.

Ses jaar later ontvang Paulus egter nie sulke goeie nuus oor wat daar in die gemeente aan die gang is nie. Daar is verdeeldheid in die kerk, baie vals predikers is besig om met die gemeentelede se koppe te smokkel, daar is bloedskande en baie foutiewe teologiese sienings. Verder is daar onduidelikheid oor die huwelik, eet van vleis wat aan ander gode geoffer is, gawes van die Gees, die opstanding van Jesus en nog ander teologies kwessies. Eintlik is dit te verstane dat ’n jong gemeente nie alles verstaan nie. Daar het nie “Hoe werk ’n gemeente 101” handleiding bestaan nie en die feit dat die samelewing waarin hulle was se moraliteit nie bo die belt was nie, het ook nie eintlik gehelp nie.

In reaksie op die nuus wat hy van die gemeente ontvang het, skryf Paulus die briewe. ’n Brief waarin hy die ongeruimdhede aanspreek en hulle eintlik so bietjie oor die vingers tik. Maar hy leer en bemoedig ook en bespreek onderwerpe waaroor hulle nog nie duidelikheid het nie.

Op verskeie plekke stem ons prentjie ooreen met die prentjie van Korinte. Ons bly ook in ’n wêreld waar die moraliteit nie lekker is nie. Die wêreld vertel vir ons stories wat lekker lyk, maar wat ver van die waarheid is. Ons raak deurmekaar oor teologiese kwessies en weet nie meer waar die waarheid hom bevind nie. En sommige van die keuses wat ons reeds by die kruispaaie van die lewe gemaak het, was eenvoudig verkeerd. Ons het leiding nodig om te weet hoe ons moet leef. Ons het iemand nodig om ons hand te vat wanneer ons in die mynveld van die lewe loop. Iemand wat vir ons op ’n praktiese manier kan wys waar ons moet pasop en waar ons wel moet loop.

Paulus steek sy hand op en hy skryf die brief vir jou. 2Aan die gemeente van God in Korinte. Dit is die mense wat aan God behoort omdat hulle Jesus Christus ken. God het hulle geroep om net vir Hom te leef. Die brief is ook bedoel vir al die mense wat ons Here Jesus Christus se gesag erken en Hom aanbid. Dit maak nie saak waar hulle is nie, net solank húlle Here óns Here is.

Ja, die brief is ook vir ons wat aan Jesus behoort. Ons moet ook luister wat Paulus hier skryf. Ons weet ons elkeen is geroep om binne die wil van God te leef. Binne ons elkeen moet daar ’n vuur brand om soos Jesus te leef. Tog, as ons na ons lewe kyk, besef ons dat die vuurtjie maar laag brand. Ons besef dat ons meer moeite sal moet doen om weer en meer binne God se wil te leef. Laat ons ons oopstel vir die werking van die Gees. Laat ons toelaat dat die Gees via Paulus se woorde in ons woel. Dan sal ons aan die einde van die boek anders wees, meer in lyn met God se wil vir ons lewe.

Mag dit tog so wees.

En op die koop toe word God se seën deur Paulus oor jou uitgespreek. Glo dit. Maak dit deel van jou lewe: 3Mag God ons Vader en ons Here Jesus Christus baie goed vir julle wees. Mag Hulle julle innerlik rustig maak en vrede gee.

Kyk uit vir die plekkies waar dit in jou lewe waar word. Dit sal so wees!

Om oor na te dink

Leef jy binne die wil van God?

Waar is die areas waaraan jy moet werk?

Is jy bereid dat die Heilige Gees in jou woel?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek