’n Ware impak
Die storie word vertel van ’n student wat in 1894 aan die universiteit van Stanford gestudeer het en geen geld vir sy studies gehad het nie. Hy het in ’n weeshuis grootgeword.
Hy en ’n vriend besluit toe om ’n konsert te hou om geld in te samel en hiervoor nooi hulle die bekende pianis, Ignacy J. Paderewski. Sy bestuurder dring toe aan op ’n vergoeding van $2000.
Die manne kon ongelukkig nie genoeg kaartjies verkoop nie en oorhandig ’n koevert van $1600 en ’n beloftebrief dat hulle eendag die res sal terugbetaal.
Met die ontvangs hiervan, neem Paderewski die brief, skeur dit op en gee die geld aan die manne terug en sê dat hulle die kostes wat hulle gehad het en ’n verdere 10% vir elkeen moet neem. Hy sal die res as betaling vir sy dienste neem.
Twintig jaar het verbygegaan en die Eerste Wêreldoorlog het Pole platgevee. Paderewski, wat nou die eerste minister was, het dringend kos gesoek vir die 1,5 miljoen Pole wat geen heenkome gehad het nie.
Uit moedeloosheid het hy by die Amerikaanse voedselbank vir hulp gaan aanklop. Die hoof, Herbert Hoover, wat later President van Amerika geword het, het dadelik ingestem en tonne kos na Pole gestuur.
Paderewski was so dankbaar, dat hy later Amerika toe is om Hoover persoonlik vir die lewensreddende daad te bedank. Toe Paderewski Hoover wou begin bedank, het hy hom dadelik stilgemaak.
Hy sê toe: “Jy hoef nie vir my dankie te sê nie, meneer die eerste minister. Jy sal dit heel waarskynlik nie onthou nie, maar jare gelede het jy twee studente gehelp. Ek was een van hulle!”
Sjoe, wat ‘n mooi ware verhaal is dit nie! Dit laat my dink aan die spreekwoord: “What goes around comes around.” Wanneer ’n mens goeddoen aan ander, is dit makliker vir ander om goed aan jou te doen.
Nie dat dit rede is hoekom ’n mens goeddoen nie. Ons doen goed, want dis die styl van kinders van God. Dis deel van ons DNA. Wanneer jy doen soos God wil hê ons moet doen, is goeddoen een van die gevolge.
En tog kom dit nie altyd vanself nie, want ons is nog te veel deel van die wêreld. Ons is so-effe selfsugtig en doen net wat vir ons lekker is. Ons kies die pad van die minste weerstand.
Daarom moet ons bewustelik soek vir plekke waar ons ’n verskil kan maak. Ons moet gaan soek vir plekkies waar ons kan gaan doen, soos ons glo en weet ons moet doen.
Dalk sal iemand dan eendag na ons kom en ons stilmaak en ons vertel watter impak ons in hulle lewe gemaak het.
Teks
Jakobus 1:19-27
Om oor na te dink
Doen jy?
Hoor jy?
Wys jy?
Gebed
Vader, ek wil net doen wat U wil hê ek moet doen. Ek wil ook goeddoen. Ek wil ook die lewe vir ander makliker maak en vir hulle ‘n bietjie sonskyn gun. Help my asseblief daarmee. In Jesus se Naam. Amen.