God se Woord in vandag se woorde

‘n Werknemer in God se diens – Romeine 15:14-21


Kliek hier om die teks te lees: Romeine 15:14-21

werknemerPaulus het baie reggekry in die vroeë kerk. Lande het as gevolg van sy prediking tot bekering gekom. Hoekom? Hy was getrou aan die opdrag van God. Hy het nie eerste aan homself gedink nie, maar aan wat God wil hê. Hy het toegelaat dat die Heilige Gees deur sy lewe werk. Daarom is hy eerlik as hy sê: 8Natuurlik sal ek dit nooit waag om oor my eie prestasies te praat nie. Nee, ek kan slegs praat oor wat Christus deur my gedoen het. Dit is nie omdat Paulus so greatwas nie, maar wat Christus deur hom gedoen het.

Daarom gaan hy voort en sê: 19… Dit is omdat die groot krag van die Gees by my is. God het vir Paulus alles gegee. God het hom 100% toegerus vir die werk om lande tot inkeer te bring, maar Paulus moes die groen lig gee vir die Heilige Gees om in hom te werk. En dit is juis wat Paulus gedoen het. Hy het ’n passie gehad vir mense wat nog nie die Evangelie gehoor het nie. Hy kon nie anders as om met alles wat in hom is, ver te reis en dag in en dag uit van Jesus te vertel nie. Hy het gebrand om by die mense in Rome ’n draai te kom maak, maar sy passie het eerste gekom: die ongereddes.

Op ’n manier kom Paulus hier aan die einde van sy brief en kyk terug oor sy eie lewe. ’n Lewe wat begin het waar hy christene doodgemaak het, tot waar hy nou alles in sy vermoë doen om die Evangelie by almal uit te kry. Hy staan self verwonderd oor alles wat die Heilige Gees deur hom reggekry het. 17Ek is baie trots op alles wat Christus Jesus tot dusver deur my werk vir God bereik het.

En ek hoor Jesus op die agtergrond sê: “Mooi so, goeie en getroue werker. Jy het jou goed van jou taak gekwyt. Well done!

Ek kry ’n vriend van my in die dorp wat arbeid verskaf aan die wingerdboere. Hy vertel dat hy 20 hektaar op ’n plaas moet gaan plant, maar geen mense kry om hom daarmee te help nie. Die mense wil net nie meer werk nie.

Toe ek nog by die besigheid was, het een van my voormanne se seun in sy installasie span gewerk. In ’n stadium het hy net moeg geraak vir die seun wat laat vir werk is of sommer net nie opdaag nie. Hy het hom later self in die pad gesteek.

Ek en jy is ook werknemers. Ons is soos Paulus geroep om in God se Koninkryk te woel. Ons elkeen het gawes gekry om ’n verskil te maak daar waar ons gaan. Soms as ek gaan slaap, wonder ek hoe God voel as Hy na die vrug van ons geestelike hande kyk?

Ek weet dit is te min. Ek weet dat ek tekort skiet. En ek leer ook weer hier by Paulus waar my fout is. Ek gee die Heilige Gees te min plek om te werk. Kyk weer na Paulus se praat oor dit wat hy reggekry het. Nee, nie hy nie, maar eerder Jesus wat deur hom gewerk het en die Heilige Gees wat saam met hom gewoel het.

Paulus was nie ’n bo-natuurlike wese nie. Hy was ’n gewone mens soos ek en jy. ’n Mens vol sonde en ’n dors om ander dood te maak. God het hom egter omgedraai. En Paulus? Hy het plek gemaak vir die Heilige Gees om te werk. Dit is die Heilige Gees in hom wat al die groot goeters in die Koninkryk van God reggekry het. Daarom weet hy dat God trots is op dit wat die Heilige Gees deur hom reggekry het.

Om oor na te dink

Wat is daar in jou lewe wat die speelplek van die Heilige Gees vat?

Hoekom is daar nie vrugte van die hoop goeie dade in jou lewe nie?

Waar moet jy begin?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek