God se Woord in vandag se woorde

Na hartseer brand vreugdevure


Dit is nie maklik om op jou verkeerde dade tereggewys te word nie. As iemand my aanvat, skop ek met alles in my in verdedigings-mode en ek verdedig vir ’n vale. Jy ook? Ek wonder hoekom is dit so? Dalk is daar ’n vrees dat ander besef ons is nie so perfek soos wat ons wil voorgee nie of dalk is dit net dat ons nie lus het om ons manier van doen aan te pas nie. Dalk sien ons net nie kans om nou in ’n gat te gaan sit en sleg te voel oor wat ons aangevang het nie.

Tog is dit nodig dat ons soms met ’n vergrootglas na ons lewens kyk. Soms gebeur dit dat mense baie naby aan ons die vergrootglas neem en aan ons vertel wat hulle sien. Die prentjie wat hulle dan skets is nie altyd so mooi nie en ons voel nie so lekker daaroor nie. Eintlik maak dit ons hartseer.

Wanneer ons genoeg wysheid besit, sal ons besef dat ons opregte hartseer nodig het om te groei. Ons moet regtig jammer wees. Ons moet regtig berou hê oor die dinge wat ons verkeerd gedoen het voordat verandering in gedrag kan plaasvind.

Êrens moet daar ’n tyd en plek wees waar jy die lorrie moet stop en terugkyk op die verkeerde dinge langs die pad. Laat toe dat hartseer jou oorval oor alles wat jy aangevang het, want dit is hier waar ’n mens na God gryp. 10Weet julle, die regte soort hartseer, die soort wat God vra, bring ’n mens altyd terug na Hom toe. Dit bring jou by die ware lewe uit.

Wanneer ’n mens by die punt van ware hartseer uitkom en jy na God draai, verander alles. Kyk net watter gevolge was daar vir die mense van Korinte: 11Julle was op die regte manier hartseer, soos God dit wil hê. Julle was vasbeslote om die saak met Hom reg te maak. Kyk net watter wonderlike resultate het dit opgelewer: julle is nou nog meer daarop ingestel om julle verhouding met God reg te stel. Sonde vul julle met nog groter afsku. Julle wil niks daarmee te doen hê nie. Julle het ook baie groter eerbied vir God. Julle smag daarna om God beter te ken. Julle is nog yweriger om God met julle hele lewe te dien. Julle is meer as tevore bereid om verkeerde gedrag vas te vat.

Waar die Korinte voorheen alles wou verdedig, het hulle dit reggekry om nou eerder ’n vergrootglas uit te haal. Die prentjie het hulle woes ontstel en trane van harte wat seer is, het gevloei. Maar in die hartseer kom God en herstel alles en nou is hulle baie beter af as voor die tyd. Ewe skielik is hulle wys genoeg om die groter prentjie raak te sien.

Dalk is jy die afgelope tyd gekonfronteer met gedrag wat nie lekker inpas by God se prentjie nie. Dalk weet jy dat jy iemand moet konfronteer oor sy of haar gedrag, maar jy is te bang vir die stofwolk wat opgeskop gaan word. Dalk is hierdie gedeelte vir jou ’n aansporing om reg te doen. Die waarheid seëvier altyd. Aanvanklik is dit nie maklik nie. Dit lyk dalk of alles uitmekaar gaan val. Maar weet net: Na die trane, kom die sonskyn. Dan sal dit soveel beter wees as voor die tyd en dan sal God se Naam geëer word.

2 Korintiërs 7:8-16

Om oor na te dink

Waar moet die waarheid uit?

Waar moet gedrag verander word?

Glo jy dat daar iets positiefs kan uitkom?

 

Gebed

Ons Vader, baie dankie dat ek gemoedsrus kan kry. Dankie vir die belofte dat ons in die gestoei om ontslae te raak van die verkeerde, nader aan U beweeg. Dankie dat ons weet dat ons nooit alleen deur die krisisse in ons lewe hoef te gaan nie. Dankie dat ons kan glo in die groei en herstel van verhoudings. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek