God se Woord in vandag se woorde

Naby genoeg…


Filippense 1:3-11

Ek kuier by vriende. Sy vrou het ’n wonderlike beesstert gemaak, van daai wat jou servet aan jou hande laat vassit. Dis hier waar my brieke nie lekker werk nie en ek my maag se “Ek is vol”-bordjie mis.

Die gesprekke is net so lekker soos die beesstert en ek kan nie ophou luister nie, want dit smaak so lekker. Stukkie vir stukkie ontrafel sy lewensverhaal. Na hy sy werk in 2007 verloor het, het hy besluit dat die land nie meer vir hom ’n toekoms inhou nie. Hy begin die visums regkry om daar doer onder ’n nuwe lewe te begin.

Tog, op ’n wonderbaarlike manier, kom hy stadig agter dat God vir hom ander planne het en dat sy roeping hier lê. God wil hom hier gebruik om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Eenvoudige dinge om ’n paar van sy werknemers en hoof van ’n sekuriteitsfirma in ’n kombi te druk en na ’n Mighty Men konferensie te ry. Maar ook groot dinge soos dat een van die mense wat op sy payroll is voltyds onder die minder bevoorregtes van ons land ’n verskil maak.

Vanuit niks het hy ’n besigheid staangemaak wat vir ’n klomp gesinne sorg. Ja, die ekonomiese klimaat skud sy boot ook gereeld heen en weer, maar op ’n manier weet hy dat hy getrou is aan God se roepstem en daar is waar God wil hê hy moet wees.

En dit omdat hy naby aan God leef en sensitief is vir die Here se leiding in sy lewe. Hy het geleer om uit die belewenisse wat hy elke dag ervaar God se leiding te sien. Nou kan ander na hom opkyk. Nou kan ander by hom leer van hoe doen ’n man van God besigheid en waar lê jou fokus. Niemand kan vinger wys nie. Al lyk die finansiële horison nie lekker nie, sal hy sorg dat sy besluite en doen en late altyd bo verdenking bly. Hy weet wat die regte keuses is, want hy is in tune met God.

Na ’n paar ure se slaap kom raak ek self weer stil. Met groot verbasing sien ek hoe my vriend se storie in die skrifgedeelte afspeel: 9Weet julle waarvoor bid ek? Ek bid dat julle al hoe nader aan Jesus sal leef. Dit is moontlik as julle bereid is om uit julle geestelike ervaring te leer. 10Dan sal julle altyd die beste keuses kan maak. Dit sal sorg dat wanneer Jesus weer kom, niemand ’n vinger na julle sal kan wys en julle van swakhede beskuldig nie. In alles wat julle doen, sal mense kan sien dat julle verhouding met God reg is.

Ek weet nie of my vriend dit so sien nie, maar hy leef presies dit waarvoor Paulus bid. Juis omdat hy naby genoeg aan God leef, maak hy keuses wat ander se lewens omdop. Al lyk dit menslik beter om ’n sekere rigting in te slaan, kan hy God se anderste pad stap. Daar is vir seker ’n verband tussen naby God leef en goeie keuses maak.

As ek so terugloer oor my eie lewe, sien ek ’n paar keuses wat nie te lekker was nie. Ek sien selfs ’n paar verhoudings wat gesneuwel het as gevolg van verkeerde besluite. Dit was in tye waar my verhouding met God nie goed was nie. Ek was nie naby genoeg aan God om sy leiding te ervaar nie.

Miskien moet ons maak soos my vriend en saam met Paulus bid. Ons moet nader aan Jesus leef. Ons moet bereid wees om uit ons geestelike ervarings te leer. Ja, dan sal ons die regte keuses maak en sal niemand ’n vinger na ons kan wys nie. Ons verhouding met God sal reg wees…

Om oor na te dink

Hoe naby leef jy aan Jesus?

Hoe lyk die kwaliteit van jou keuses?

Bring jy genoeg tyd met God deur?

Gebed

Vader, ek besef dat baie van my keuses se gevolge iets te doen het met hoe naby of hoe vêr ek van U lewe. Ek smag om nader aan U te lewe. Ek wil oral waar ek gaan ’n verskil maak aan ander, maar ek het U so nodig. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek