Net een goeie daad per dag
Alida (skuilnaam) laat my so half skaam voel as gevolg van haar manier van liefde uitleef en omgee. Sy vertel:
Ons moet die wil van God prakties in ons lewe laat grondvat. As jou medemens, en ja, selfs jou vyand honger is, gee hom brood. Of as hy dors is, gee hom water.
Ek maak dit ‘n elke-dag-ding. Een goeie daad per dag. Al is dit vir mens of dier.
Baie keer dink ek, ek het dit nie vandag gedoen nie, maar as ek saans met God praat, word ek deur Hom gewys dat ek wel iets gedoen het. Partykeer was ek gelukkig om meer as een keer goed te kon doen.
Dis al deel van my daaglikse bestaan. Die tyd is kort. Ons Skepper gaan ons kom haal en ons moet soveel as moontlik mense laat besef dat daar hulp is van Bo. Hulle moet net vra. Dit sal kom.
Om terug te gee, moet deel van ons lewe wees. Dit is die opdrag van God. Ek wens ek het genoeg aardse goed gehad om meer te help. Tans is ek besig om my groentetuin so te bou dat ek dalk ‘n sopkombuis kan begin.
Ek het vir die laaste somer en winter myself, my beste vriendin en my ou man wat half blind is en nog steeds wil werk in die tuin, gevoer met my groentetuin.
Ja, nou moet dit nog groter gemaak word. Baie mense gaan slaap honger. My droom is om eendag ’n sopkombuis te hê waar ons sommer baie honger mense kan kos gee.
Ons is dikwels besig met ons eie dinge. Ons is net op onsself gefokus en ons sien nie die nood van ander raak nie. Nog minder hoor ons die opdrag van God se kant af om werklik ’n verskil te maak.
22… Hy verwag dat julle in liefde lojaal teenoor mekaar sal wees, reg om mekaar te help en te dien wanneer dit ook al nodig mag wees. Julle moenie allerhande bymotiewe hê nie, maar moet opreg wees. God self het julle mos sy kinders gemaak.
Om liefde uit te leef, begin by die mense naby ons. Ons moet ons broers en susters, ons eggenote en ouers, ons kinders, vriende en familie uit ons harte liefhê. Maak nie saak wat hulle aan ons gedoen het of wat hulle nie gedoen het nie.
Dit is nie so maklik nie, want ons word baie keer benadeel – dan lê dit swaar in ons harte. Ander kry meer. Ander vat sommer meer en dan is dit nie so maklik om iemand onvoorwaardelik lief te hê nie.
Jy sien, as ons kinders van God is, kry ons die opdrag om almal lief te hê. Dit is nie opsioneel vir ons nie. Dan móét ons kyk waar mense in nood is. Dan móét ons sensitief wees vir die stem van die Heilige Gees en dan móét ons begin om iets daaraan te doen.
Dalk moet ons maak soos Alida en ons voorneem om elke dag een goeie daad te doen. Só saai ons liefde. Dalk moet jy ook toelaat dat die Heilige Gees ’n projek in jou hart wakker maak. Dalk moet jy ook jou tuin van goeie dade ’n bietjie uitbrei.
Die uitleef van Jesus se liefde is vir ons wat kinders van God is, nie opsioneel nie. God het ons gemaak om liefde te saai. Laat ons dit dan met passie doen.
Teks
1 Petrus 1:22-25
Om oor na te dink
Hoeveel liefde leef jy uit?
Is dit genoeg?
Waar kan jy meer liefde gaan uitleef?
Gebed
Vader, ek weet ek is medeverantwoordelik om U liefde in die wêreld ’n werklikheid te maak. Help my om die plekke raak te sien waar U wil hê ek moet dit doen. Amen.