Net soos jy is
’n Mens het nie ’n graad in teologie nodig om Sy Woord te verkondig nie. God het nie hoogs opgeleide graduandi nodig om sy werk op aarde te doen nie. Nee, net gewone mense soos ek en jy.
As ’n mens terugdink aan die mense wat by was met die geboorte van Jesus, sien jy dat dit net gewone mense was wat ’n draai kom maak het: sterrekykers en skaapwagters. Ironies genoeg het die kerk geblink in sy afwesigheid. God draai die dinge eintlik op sy kop. Dit wat belangrik is in ons oë, maak nie vir God sin nie. Dit wat weer vir ons agter in die ry staan, staan vir God heel voor.
Vat nou maar vir Moses. Hy het gesukkel om die een woord na die ander te sê, want hy het gehakkel. Maar God kies hom om met die farao te praat en sy volk uit Egipte te lei. Wat vir die wêreld nie sin maak nie, maak vir God sin. As God in beheer is, word die onbelangrike belangrik.
26My liewe vriende, dink ’n bietjie mooi na oor wie julle regtig was voor God julle uitgenooi het. Volgens mense was die meeste van julle maar dommerig en eenvoudig. Julle was maar gewone werkers sonder enige invloed wat uit die swakker deel van die dorp gekom het. Maar God werk anders. God het juis onbelangrike mense aan wie niemand hulle steur nie, gekies om die beterweterige mense wat dink hulle is belangrik, skaam te maak. God se keuse het geval op mense op wie almal trap omdat hulle sosiaal nie vir daardie mense iets kan beteken nie. Mense wat dink hulle is die room van die samelewing sal skaam en verleë voor hierdie arme onbelangrike mense moet kom staan.
’n Dame wou ook iets vir die Here doen, maar het nie geweet wat nie. Wat het sy nou wat sy vir die Here kan gee? Op ’n manier begin God met haar woel oor die mense by wie sy verbyry. Sy vertel:
Ek werk so drie kilometer buite die dorp en daar is trosse mense wat elke dag uitstap na hulle werke – kom wind of reën. Ek kry hulle baie jammer, veral dié wat laat werk smiddae wanneer daar geen vervoer meer is nie.
Ek het lank en hard met God gepraat, want sien, ek is alleen in die kar en my man kry die horrie piep as ek so mense optel. Die Here het my belowe Hy sal vir my uitwys wie ek daagliks moet optel; en so, vir die laaste 3 jaar tel ek daagliks siele op terwyl ek op pad werk toe en terug ry. As ons so ry, vertel ek hulle dat ek hul Pa ken en dan getuig ek sommer oor Hom.
Ek kan jou nie vertel wat se seën dit nog verder in my lewe gebring het nie, want die reaksie wat ek kry, is awesome – ’n woord wat ek net gebruik as ek verwys na God en Sy werke. Van oh yes, that man Jesus tot our Father, God is my daaglikse brood en my siel jubel!
Baie mense sal sê dat sy nie lekker is om dit in vandag se lewe te doen nie, maar tog was sy getrou om God se opdrag uit te voer. En God kom dop dit alles om. Dit wat vir die mens as dom en onveilig en eintlik onverantwoordelik lyk, gebruik God nou as ’n voertuig om sy Boodskap uit te kry.
Wat is ons rede om nie gehoor te gee aan God se opdrag vir ons lewe nie? God soek nie ouens wat alles perfek kan doen en wat die beste opleiding vir die werk gehad het nie. God draai die goed om, want Hy gee sommer in-house training. Hy soek net jou gewilligheid – dis al. Of jy nou hakkel of nie. God soek jou net soos jy is. Al is jy onbelangrik in die oë van die wêreld en selfs in die oë van die kerk, dit is juis vir jou wat die Here soek. Hy draai self jou waarde om en jy word belangrik, jy word onmisbaar vir God se werk wat hier op aarde moet aangaan.
Om oor na te dink
Verstaan jy dat God jou wil gebruik?
Waar kan God jou gebruik?
Vertrou jy God om alles vir jou om te draai?
Gebed
Here, help my om my oor op die grond te hou, om te hoor waar U my wil gebruik. Help my om te besef dat ek net tydelik op die aarde is en dat ek in die tyd soveel as moontlik energie in die bou van U koninkryk sal inploeg. Help my om nie te luister na die wêreld en te probeer najaag wat hulle sê belangrik is nie, maar dat ek sal doen wat vir U belangrik is. Here, ek wil net U wil doen. Gebruik my net soos ek is. Amen