God se Woord in vandag se woorde

Nie afkoop


’n Jongerige man, wat al goed deur die son pakgegee is, staan by die verkeerslig. Hy groet elke mens met ’n saluut en ’n groot glimlag. Ek kan nie lekker sien wat op sy bordjie geskryf is nie, want dit het ook al baie myle op. Tog maak ek die twee laaste woorde uit: “God bless!”

Ek wonder of God my gaan seën as ek vir die man ietsie gee. Die ouerige bestuurder voor my wink hom nader en stop ’n R100 in sy hand. Ek wonder of die oom ook gedink het aan God se seën wat aan mense gegee word wat gee …

Nee, ek wil nie kommentaar lewer oor of ’n mens vir mense moet gee by die ligte met bordjies wat sê dat God ons sal seën as ons ietsie gee nie. Elke mens moet vir homself uitmaak waar hy gaan gee en waar nie of eerder, waar God wil hê hulle ’n verskil in ander se lewens moet maak.

Partykeer voel dit net vir my asof mense wat so by ligte staan op ’n mens se skuldgevoel-knoppie druk en dan gee jy maar so ’n ietsie. Gee ’n mens dan omdat God dit op jou hart gedruk het of omdat jy jou skuld afkoop?

Dis eintlik makliker om jou hand in jou beursie te druk en ietsie te gee as om jou hande vuil te maak en van jou kosbare tyd prys te gee om ’n verskil te gaan maak waar werklik nood is.

Jy sien, wanneer ’n mens gee, moet dit ook ’n uitvloeisel wees van die manier hoe jy lewe. As jou lewe nie in lyn is met die rigtingwyser van God nie, is ons ook maar net besig om ons skuldgevoelens af te koop met die druk van ’n paar rand in iemand se hand.

27Laat ek vir julle sê watse soort godsdiens God ons Vader as eg en eerlik sien: as jy bereid is om dié mense te help wat nie vir hulleself kan sorg nie, maar in die nood is, is jy besig met die regte godsdiens. Maar dan moet jy ook sorg dat jou eie lewe skoon bly van al die verkeerde dinge wat ’n mens in hierdie wêreld kan doen.

Maak seker dat jy nie leef soos die mense van die wêreld nie. Onthou, ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Ons is heilige kinders van God en heilig beteken mos afgesonder.

Ons is afgesonder vir God. Ons is Sy gesante hier op die aarde en mense moet dit kan sien. Selfs al ontmoet mense jou net een keer. Ons moenie vreemd vir die mense wees nie, maar nie doen soos hulle nie.

Ons moet ons lewe skoon hou. Laat selfs die manier waarop ons armes help, mense na God toe wys. Laat dit ’n storie vertel van kinders wat gelowig doen soos hul Vader van hulle verwag.

Laat ons nie ons skuldgevoelens afkoop nie, maar die liefdesgebod uitleef en so ’n verskil maak orals waar ons gaan.

Teks
Jakobus 1:27

Om oor na te dink
Doen jy?
Hoor jy?
Wys jy?

Gebed
Vader, dis nie altyd vir my maklik in hierdie wêreld om as kind van U te lewe nie. Soms is ek net nie lus vir goeddoen nie. Soms lewe ek ook maar soos die mense van die wêreld. Heilige Gees, help my asseblief om my lewe skoon te hou, al is dit moeilik en teen my eie wil. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek