God se Woord in vandag se woorde

Nie meer gewoon


My bergfiets is gesteel. Om te besef dat ’n dief binne ’n meter van my slapende liggaam beweeg het en met sy vuil hande en vuil hart my fiets kom vat het, was ‘n baie slegte ervaring.

Gelukkig was die fiets verseker en kon ek dieselfde maak aanskaf, al was die fiets al baie meer getrap as myne. Tog was ek dankbaar dat ek weer twee wiele het om te sorg dat die rif om my maag nie te veel uitstoot nie.

‘n Kort tydjie daarna kry ek ’n oproep van iemand wat vir my ’n groot naam fiets as geskenk wil gee. Sjoe, ek was so opgewonde. Die ratte is van die heel beste en die remme en skokbreker kom ook uit die boonste rakke. Die wiele en raam so lig soos ’n veertjie.

Ek onthou nog hoe dit gevoel het toe ek die eerste keer met die fiets gery het. Dit het gevoel asof ek vlieg. Geruisloos het dit vir my geklink. Ek het oor die hobbelrige pad gesweef. My mond het oopgehang vir die ongelooflike tegnologie wat hulle alles in die fiets geprop het.

Ek het weer gister met my nuwe fiets gaan ry. Dit was woes lekker, maar ek besef ek het so vinnig gewoond geraak aan die wonderlike fiets dat ek nie meer die besonderse tegnologie waardeer nie. Ek sien nie eintlik meer die ratte en die remme se name nie. Ek kom nie meer agter dat as ek die skokbrekers aansit, ek oor die klippe en gate sweef nie.

’n Mens raak vinnig gewoond aan dit wat ons eens opgewonde gemaak en oorrompel het deur die grootheid, dat dit maar net by die gewone inpas. Ons dink dit moet so wees en dan gradeer ons dit afdraand.

Dis seker hoe die mens maar is. Daarom moet ons gereeld eers gaan stop en onsself dwing om opnuut te besef hoe wonderlik is die dinge wat so gewoon in ons lewe geraak het. Soos die fiets.

En soos Jesus se koms na die aarde. Besef ons werklik wat daar gebeur het? Besef ons werklik die opoffering van God en van Jesus? Besef ons werklik die impak van die kruis op my en die res van die mensdom?

Die profete was so opgewonde en het die nuus met groot afwagting aangekondig. Selfs die engele en ander hemelwesens kon dit nie hou nie en kon nie wag vir hierdie spesiale oomblik om aan te breek nie.

12So het daardie profete besef dat hulle boodskap eintlik nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Die mense wat dus die goeie boodskap van Jesus vir julle kom vertel het, is so deur die Heilige Gees gelei. Hierdie boodskap is so wonderlik dat selfs die engele opgewonde is om te sien wat alles gaan gebeur.

As ’n mens die woord “sien” van nader bekyk, beteken dit dat die engele amper kromgetrek het soos wat hulle afgebuig het om te sien wat gebeur. Hulle was opgewonde terwyl hulle gewag het vir Jesus om aarde toe te kom, want hulle het geweet dit sal die grootste gebeurtenis ooit wees.

Kom ons staan opnuut in verwondering oor Jesus se koms na die aarde, sodat ons ontslae kan raak van die gewoonheid daarvan in ons lewe. Kom ons maak tyd en kyk met opgewonde oë na hierdie reddende daad van God. Dan sal ons voete weer anders loop en sal ander agter ons wil aanloop.

Teks
1 Petrus 1:10-12

Om oor na te dink
Watter dinge het vir jou vanselfsprekend geword?
Pas Jesus se koms hierby in?
Hoe dan anders gemaak?

Gebed
Vader, beskerm my daarvan om nooit U Seun se koms na die aarde as gewoon te sien nie. Help my om altyd opgewonde te wees, geroer te wees, omdat ek besef hoe diep ek in die verknorsing sou wees as dit nie vir Jesus was nie. Ek bid dit in Sy wonderlike Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek