Nie met ’n slap riem gevang
Vir baie mense is die evangelie net té eenvoudig. Hulle wag eintlik vir die catch. Ja, hoeveel keer het ons nie al oproepe gekry van mense wat jou die maan en die son belowe net om aan die einde van die gesprek te moet hoor dat jy ’n klomp geld moet stoot nie. Ai, dit het eintlik so goed geklink, maar jammer, ek het nie nou daai soort geld nie en boef, sonder om te groet, word die telefoon in jou oor neergesmyt. Daarom is party mense bang hulle word ook met ’n slap riem gevang wanneer die hemel aan hulle belowe word sonder dat hulle dit moet verdien deur een of ander goeie daad of gewoonte.
Dit is jammer dat daar mense is wat glo dat hulle slégs deur binne die grense van die wet te leef, by God kan uitkom. 18As ek dan nou nog, nadat Christus dood is en weer lewendig geword het, op my eie by God probeer uitkom, wys ek dat ek net mooi niks van die goeie nuus verstaan nie. Dan is ek steeds skuldig voor Hom. Op ’n manier trek hulle ’n streep deur Jesus se kruisdood. 21Ek kan nooit God se goedheid deur my vingers laat glip nie. As ek nou, na alles wat God vir my gedoen het, steeds probeer om self ’n plek in die hemel te verdien deur te doen wat die wet sê, is Christus verniet aan die kruis dood.
As jou pa vir jou ’n plaas, ’n huis of ’n kar verniet gee, maar jy sê nee, jy kan dit nie aanvaar nie, want jy het niks daarvoor gedoen nie, vat jy hulle mos in die gesig. Dis presies dieselfde as ons dink ons moet wérk om ons plek in die hemel te verdien. Wanneer jy so dink, vat jy Jesus in die gesig en jy sê vir Hom dat sy dood aan die kruis nie genoeg was nie. Amper asof jy sal beter voel as jy ook ’n bietjie bloed en sweet bysit voordat jy die hemel betree.
Ons hoef nie bang te wees dat ons met ’n slap riem gevang sal word nie. Jesus se dood aan die kruis was genoeg om te betaal vir ons sondes. Ons hoef nie meer ’n klomp reëls na te kom om in die hemel toegelaat te word nie. En tog, as ek om my kyk en al die eposse lees wat ek elke dag ontvang, sleep die mense swaar. Hulle sleep swaar aan die sondes. Ja, ek vang myself ook soms terneergedruk en kwaad vir myself. Ek voel ook skuldig oor die dinge wat ek verkeerd gedoen het. Soms wil ek nie eens opkyk nie, want elke stuk sonde keer dat ek by God uitkom. En saam daarmee vlieg my vrede én vreugde by die deur uit.
Om gered te word, is niks behalwe geloof in Jesus Christus nodig nie. Maak Jesus nommer een in jou lewe. Kyk na jou eie lewe, veral na die verkeerde dinge en die dinge wat ons weet ons moet doen en nie doen nie deur Jesus se kruis. Weet dat Hy klaar die straf vir jou sondes gedra het en nee, die wet is nie uitgedien nie. Die wet is vandag nog vir ons ’n hulpmiddel om te weet hoe God wil hê ons moet leef.
Maar dis belangrik om te weet dat die onderhouding van die wet niemand se redding kan bewerk nie. Eers redding deur geloof in Jesus alleen, dan gehoorsaamheid deur die wet te onderhou.
Die wet is nog steeds elke dag vir ons ’n rigtingwyser, maar die gevolg van die oortreding van die wet, die straf, is deur Jesus gedra. Daarom kan ons weer van vreugde huppel, want Jesus het vir die straf van al ons sondes gesterf. Ons verantwoordelikheid is om nou uit dankbaarheid ’n lewe van gehoorsaamheid te leef.
Teks
Om oor na te dink
Glo jy in die evangelie se eenvoud?
Glo jy dat Jesus ook vir jou sondes gesterf het?
Nou vir wat sleep jy nog?
Gebed
Here, hoe goed is U nie vir ons deur met U lewe en U liggaam vir ons elkeen se sondes in te staan nie. Jammer, Here, dat ons so baie keer gebukkend onder die sonde staan en nie moed het om weer te probeer nie. Help ons om aan te hou glo dat U offer aan die kruis ons gered het van ’n ewige dood. U liefde vir ons is onbeskryflik groot. Amen