Nie ’n duim van koers af nie
Mense is skelm. Mense draai ander ’n rat voor die oë. Dis asof dit net erger raak by die dag. Selfs in die Bybelse tyd het dit al erg gegaan: 13Die klomp skelms gaan net woester en slegter word. Dit is ’n bose kringloop. Hulle lei ander op die verkeerde pad omdat die duiwel húlle op die verkeerde pad gelei het.
Anita (skuilnaam) het dit ook aan haar lyf gevoel:
’n Jaar terug het ek byna alles verloor en my gesin het saam swaargekry. Ek is die broodwinner (my man is baie siek). Ek was naïef en het ‘n “Christen” vertrou met absoluut my hele lewe. Sy was net goed en gaaf totdat sy haar hand op my kliënte kon lê en siedaar – ek word die skurk.
Ek het toiletpapier in openbare toilette geneem en sakkies suiker wat in restaurante op die tafels is. Die suiker het my energie gegee. My man was ook ‘n diabeet en ek was bang sy suiker daal en ek het niks om vir hom te gee nie.
Ons is menslik en sal bang en angstig raak al weet ons God sal na ons omsien.
Ja, dit is bitter, bitter moeilik as ek na my familie kyk. Baie mense sou dalk hulle werk verloor het en ek het besluit, bly net stil en vertrou op God. Nou, ‘n jaar later, is ek besig om weer my voete te vind en ‘n inkomste te genereer.
Ek verstaan nie hoe mense ander net so kan inloop nie. Die ergste van alles is dat sulke mense gewoonlik hul gedrag regverdig en nie eintlik dink dat hulle verkeerd doen nie. Dan voel ’n mens om terug te slaan, soos Anita verder skryf:
En ja, soms vang ek myself dat ek wens dat die persoon en haar trawante hulle dag kry, maar dan besef ek ook dit is verkeerd.
Dis menslik om so te reageer en te wil hê dat hulle ook dieselfde pyn as jy moet voel. Maar Anita kry dit reg om ’n deksel om die gedagte te sit. Sy volg presies die raad wat Paulus vir Timoteus gee: 14Maar jy, Timoteus, moet jou nie ’n duim van koers af laat bring nie. Bly by die dinge wat vir jou geleer is en wat jy weet waar is.
Die lewe is nie regverdig nie. Die lewe is nie altyd teerpad nie. Soms word ons op ’n grondpad gegooi en baie keer nie eers weens ons eie toedoen nie. Wanneer mense en omstandighede ons ongevraagd op hierdie roete druk, is die natuurlike gedrag wat kop wil uitsteek om te skop en skree.
Maar vir kinders van God is dit nie die regte koers om in te slaan nie. Dis belangrik dat ons eers rustig raak en by God gaan sit om ontslae te raak van die emosies. Jy sien, wanneer ons planne maak met emosies wat voor hardloop, is die kans goed dat ons van koers gedruk word.
Wanneer ons egter rustig is en deur die wysheid blaai wat ons al deur die jare van God en Sy Woord geleer het, kan ons reageer en optree binne die wil van God. Dan kan ons bo-menslike krag kry om nie die skurke dieselfde seer en swaar toe te wens nie. Maar meer nog, dan kry ons die krag om sommer net te vergewe. Soos Anita dit reggekry het.
Mag haar storie ook ons storie word. Mag ons krag en wysheid ontvang om te midde van die lewe nog steeds op God se koers te bly.
Teks
2 Tim 3:13-16
Om oor na te dink
Waar druk dit?
Is daar plekkies waar jy van koers af is?
Hoe nou gemaak?
Gebed
Vader, ek sukkel om kop bo water te hou. En ja, ek sukkel ook om op koers te bly. Ek wil binne U weë die lewe leef. Maar ek sukkel erg. Ek weet ek moet binne U wil lewe. Help my asb. Amen.