God se Woord in vandag se woorde

Nie nodig om nog ’n saal te soek nie


Wanneer mense my vra aan watter kerk ek behoort, sê ek altyd dat ek inter- denominaal is. Ek dink nie dit was God se idee dat daar so ’n hoop verskillende kerke moet wees wat elkeen sy eie take op dinge het nie. En dit lyk vir my of dit al hoe erger raak. As dit net lyk of ons op een punt van mekaar verskil, soek ons ’n leë saal op die dorp om ons eie ding te begin.

Ek lees van ’n predikant op ’n plattelandse dorp wat een van sy ouer gemeentelede gedoop het en nie volgens die gemeente se leerstellings opgetree het nie en summier geskors is. Nou sit daar enkele gemeentelede Sondae in die kerk en die res is by die geskorste dominee wat in ’n saal byeenkom.

Ek vermoed dat Jesus trane stort oor die mense wat so mors met sy liggaam.

Ons raak dikwels so verstrengel in teologie en interpretasies dat ons die hoofboodskap mis. Daar moet egter slegs een fokus wees: 28Die inhoud van ons verkondiging gaan juis oor Christus. Ons praat reguit met almal oor Hom en leer hulle alles wat hulle van God en hulleself af moet weet.

Jesus is die hoof tema van die Openbaring van God. God openbaar – Hy maak Homself aan die mens bekend deur sy Woord. As jy vir God wil ken, as jy sy hart wil sien, lees die Bybel. Ek sê altyd dat jy mense se hart kan sien deur die woorde wat uit hulle mond kom. En dis nie altyd ’n mooi prentjie nie, veral as iemand hulle selfbeheersing verloor het en ’n stortvloed van onkeerbare woorde net uitval.

Gelukkig is daar mense wie se woorde ’n mooier prentjie skets – ’n voorbeeld vir ons almal.

Dis die prentjie wat ons van God se hart kry deur sy Woord. ’n Prentjie van omgee, ’n prentjie van uitreik na mense in nood, ’n prentjie van Homself gee aan mense wat dit glad nie maak nie. In die foto staan daar net een persoon: Jesus. Fokus op Jesus, want Hy is die enigste een wat werklik ’n verskil kan maak. God se hele verhaal bereik die hoogtepunt by Jesus.

Dit is waarin ons moet glo en wat ons ook vir ander moet vertel. Die res van ons verskille is soms net geraas. Verskoon my as ek dalk nou te ver gegaan het. Daar is sekerlik dinge waaroor ons moet en kan praat, maar die probleem kom wanneer die res belangriker raak as Jesus. Wees veilig en laat Jesus altyd die fokus bly. Moenie toelaat dat jy van die pad gelok word nie.

En 28… dit is alleen moontlik deur ’n intieme verhouding met Christus.

Dit is so ’n eenvoudige antwoord. En tog duik die meeste van ons hier in die hek en dis heel waarskynlik die grootste rede waarom ons elkeen op ons eie mishoop wil koning kraai. Ek wil dit waag om te sê dat as ons nie ’n intieme verhouding met Jesus het nie, ons gaan sukkel om Hom die fokus van ons lewe te maak en dalk die rede vir nog ’n saal gaan soek.

Kom ons konsentreer op ons verhouding met Jesus. Kom ons leer Hom werklik ken as ons Vriend. Kom ons maak tyd vir Hom in ons besige dag. Kom ons nooi Hom orals saam met ons in. Dan sál ons by Sy wil vir ons lewe uitkom.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:28-29

Om oor na te dink

Waarop fokus jy?

Watter ander dinge is daar buiten Jesus?

Hoe intiem is jou verhouding met God?

Gebed

Vader, vergewe my dat ek Jesus nie altyd in die middel van my lewe plaas nie. Vergewe my dat ek nie altyd die beste voorbeeld is nie. Help my om tyd opsy te sit en te werk aan ’n intieme verhouding met Jesus. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek