God se Woord in vandag se woorde

Nie op ons eie nie


Ek en my vrou sit op die stoep. Sy is besig om ‘n ernstige studie oor Openbaring te doen. Sy vertel hoe die voorspellings al hoe meer ’n werklikheid is. Neem maar net ons manier van betaal. Deesdae tap ek net my foon en daar gaan die betaling af. Ons is regtig besig om na ’n kontantlose samelewing te beweeg.

Sy vertel ook hoe Openbaring sê dat daar ’n tyd gaan kom, wanneer ons vir of teen God moet kies. En dadelik sê ek dat ek vir God sal kies. Maar as jy nou ’n moeder is met vier klein kindertjies, sal jy hulle laat sterf van die honger deur nie die wêreld se betaalsisteem te kies nie en eerder vir God? Jy sien, die keuse is dan veel anders as net ’n keuse wat oor myself gaan.

Ek kry so-effe van ’n vrees oor my. Sê nou maar net ek het nie die moed om reg te kies nie? Sê nou maar net my geloof is te klein en kan nie die mas opkom teenoor die aanvalle van die wêreld en die bose nie?

Ek besef dat die restourasieproses in my lewe nooit ophou nie. Ek val voortdurend terug in my ou manier van doen. Al te gereeld, duik my geloof in die hek en probeer ek op my eie deur die lewe kom.

Ek vermoed dis menslik, maar ons moet besef dat ons dit nie op ons eie gaan maak nie. Ons is eenvoudig net te klein en te min en te swak om die restourasieproses in ons eie lewe te voltooi.

Daarom moet ons oop wees vir ’n vennootskap. Ons moet toelaat dat Jesus ons vennoot is in die voortdurende restourasieproses in ons, om so al hoe meer te word soos die prentjie wat God van ons het. 21… Mag Hy deur Jesus in ons lewe dinge doen waarop Hy trots kan wees.

Ons moet ruimte maak vir Jesus om in ons lewens te werskaf. Ons moet ruimte maak vir Jesus om dinge wat nie so vars is nie, in ons lewe uit te sorteer. Ons moet Hom toelaat om verkeerde goeters uit te ruk en nuwe plantjies te plant, wat blomme sal voortbring wat vir God lekker ruik.

Dis nie maklik nie, want ons wil mos alles op ons eie doen en hou nie eintlik daarvan om voorgesê te word nie. Maar as ons daar aan die einde die regte keuse wil maak om so ook daarna ons eie kroon te ontvang, moet ons in ’n vennootskap gaan en oorgee aan Jesus om Sy ding in ons lewe te doen.

Maar hoe doen ons dit prakties elke dag? Ons moet Sy stories lees. Ons moet Sy Woord neem en lees wat Hy te sê het oor hoe ons moet leef. Ons moet Sy manier van lewe hier op aarde aantrek, sodat ons ook so kan leef.

Dan sal ons ’n lewe begin leef waarop God sal trots wees. Dan sal ons lewe leef waar ons nie hoef bang te wees dat ons verkeerde keuse sal maak as die eindtye aangebreek het nie.

Dan sal ons ’n lewe leef wat getuig van ons dankbaarheid teenoor God en teenoor Jesus en sal ons lewe ander vertel dat ons dit nie op ons eie kan regkry nie en dat al die eer aan Hom behoort. 21… Aan Jesus behoort die eer en grootheid vir ewig en altyd. Amen.

Teks
Hebreërs 11:20-31

Om oor na te dink
Is jy ook soms bang vir die einde?
Laat jy Jesus toe om in jou lewe te woel?
Hoe moet jy meer plek maak om dinge te doen wat God sal trots maak?

Gebed
Vader, vergewe my bangheid. Help my om meer dinge te doen wat U trots sal maak. Help my om Jesus meer toe te laat in my lewe en minder my eie dinge te doen. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek