Nie skaam om te help nie
Ek kyk ’n video op Facebook: No means No. Dis ’n aangrypende video oor dinge wat reg rondom ons gebeur en waaroor baie van ons niks sê nie. Die video daag jou uit.
’n Ou is besig om ’n jong meisie by ’n partytjie op ’n bank vas te druk, terwyl sy vriend alles op sy selfoon afneem. Sy is duidelik nie by nie. Dan kyk die ou ewe skielik in die kamera en sê: “Baie dankie dat jy nie jou mond oopmaak nie!”
Dan beweeg die kamera na ’n kantoor waar ’n dame agter haar skerm werk. Haar baas kom aangestap en vryf haar skouers. Haar baas kyk op en sê vir die kyker: “Thank you for minding your own business.”
Volgende is 4 opgeskote laaities wat om ’n selfoon bondel. Hulle kyk intieme prentjies. Een outjie kyk in die kamera en sê: “Dankie dat jy nie vir my meisie vertel nie.”
Laastens draai ’n meisie vir ’n splitsekonde haar rug op haar drankie om ’n vriend te groet. ’n Ou gooi iets in haar drankie en draai dan ook na die kamera en sê: “Dankie dat jy nie vir iemand vertel nie.”
Dis asof almal wat so in die kamera kyk met my praat.
En ek wonder hoe sal ek optree as ek sien dinge is nie reg nie? Wat doen ek as daar onreg gepleeg word, maar meer nog – wat doen ek as ek weet mense loop op die breë pad? Ek wonder of daar momente sal wees waar ek my kop in skaamte sal sak as ek die kans kry om op ’n skerm na my lewensverhaal te kyk?
Wanneer dit kom by die uitdra van die Evangelie, is Paulus uitge-sort met sy manier van doen: 20Ek is seker dat ek nie skaam sal wees oor wat ek gedoen het nie. Ek maak Christus mos groot deur wat ek inderdaad doen, en ek doen niks skelms nie. Hy weet hy doen sy beste. Hy weet dat hy nie sy mond sal hou nie, al word hy in die tronk gegooi, al kos dit sy lewe.
Die video op Facebook is nog nie klaar nie. Stadig kom die teks op: As jy niks doen nie, help jy hom, maar as jy wel iets doen, help jy haar.
Al 4 meisies verskyn dan een vir een en sê:
- “Dankie dat jy hulp gekry het” en haar twee vriendinne help haar om van die bank op te staan.
- “Dankie dat jy HR vertel het, terwyl iemand met haar Baas praat.
- “Dankie dat jy hom gestop het” sê die meisie terwyl die tienermeisie verlig met vriendinne gesels.
- “Dankie dat jy vir die barman gesê het” terwyl sy met ’n glas water in die hand staan.
Die video eindig met ’n uitdaging aan almal: Wie sal jy help?
Of dit nou is om verkeerde dinge in ons wêreld aan te spreek, mense sonder ’n sê se mond te wees, vir die swakkes op te staan, of om God se opdrag van liefde fisies uit te leef, kom ons doen dit wat van ons verwag word.
Laat ons dade getuig van God wat die wêreld liefhet. Kom ons tree so op dat ander dankie sal sê en dat ons nooit skaam sal voel oor ons dade nie.
https://youtu.be/c2ZSZrGc-O8
Om oor na te dink
Waar moet jy opstaan?
Waar moet jy iets sê?
Skaam?
Gebed
Vader, help my dat ek my nooit sal skaam vir my dade nie. Help my om op te staan vir die wat in die moeilikheid of nood is. Help my om U versoenende, vrymakende Woord uit te leef, orals waar ek gaan. Amen