Nie soos ’n jellievis
Net om te recap: Paulus is aan die woord in die boek Galasiërs. Paulus was ’n fanatiese aanhanger van die Joodse godsdiens voordat hy in Jesus as die Verlosser begin glo het. Petrus was een van Jesus se dissipels. Beide verkondig dieselfde evangelie en het ooreengekom dat Paulus die evangelie aan die nie-Jode sou verkondig en Petrus aan die Jode.
Die vryheid wat Jesus se verlossing vir ons gebring het, het nog nie lekker in Petrus se kop vasgesteek nie. ’n Mens kan hom nie kwalik neem vir sy optrede nie. Baie van ons sou dieselfde opgetree het. Tog is hy so bietjie van ’n jellievis.
Petrus was op besoek in Antiogië en het die mense gehelp om meer van die Here te leer. Onthou, daar was nie opgeleide predikante of pastore wat voorgeloop het en die gemeente gewys het hoe lyk die lewe van ’n volgeling van Jesus nie. Die apostels het baie op reis gegaan om die nuwe Christene by te staan, te leer en te wys.
Petrus het deel geraak van die groepie Christene in Antiogië. Hy het gedoen soos hulle gedoen het en geëet wat hulle geëet het om te bewys dat almal voor God dieselfde is. Dit het goed gegaan … totdat daar ’n klomp Joodse Christene opgedaag het. Ewe skielik het Petrus nou nie meer saam met die nie-Joodse Christene geëet nie. Was hy bang vir die reaksie van die Joodse Christene? Was hy bang oor die stories wat hulle sou aandra oor hoekom hy wat ’n Jood is, met die nie-Jode meng?
En kyk wat gebeur toe! Die nie-Joodse Christene maak toe presies soos hy maak. So amper asof hulle hulle rug draai soos die wind waai.
En toe sê Paulus: 14Toe ek sien dat die gelowiges nie meer leef volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek ingegryp. Ek het Petrus daar voor almal vasgevat: “Jy wat ’n Jood is, leef lankal nie meer soos ’n Jood nie. Wie gee jou dan die reg om mense wat nie Jode is nie te dwing om nou skielik allerhande nuttelose Joodse gebruike na te kom?”
Dalk het Petrus so opgetree om nie aanstoot te gee en die Joodse Christene ongemaklik te laat voel nie. Dalk het hy in alle opregtheid probeer om almal tevrede te stel en so min as moontlik branders te maak. Of was hy dalk huiwerig oor die einste saak waarvoor hy staan?
Maar in die gewik en weeg tussen wat God hom geleer het en wat die mense se reaksie gaan wees, het hy meer skade as goed aangerig. Sy optrede het ’n verdeeldheid onder die gemeente gebring en twee verskillende groepies is noodwendig gevorm.
Petrus het hier ’n keuse gemaak vir tradisie bo die evangelie. Daarom word hy deur Paulus oor die kole gehaal. Paulus wys hom vinnig en hard tereg deur hom te herinner dat die onderhouding van die reëls en regulasies van die wet nie die mense se verlossing kan bewerk nie. Die fokus lê nie by wat ons moet doen nie, maar juis oor wat Jesus vir ons gedoen het. Dit is die middelpunt.
My vrou is besig om al die kinders bymekaar te maak om reg te maak vir kerk. Twee is aan die speel in die kamer en die ander een slaap nog. Maar in my vrou se stem hoor ek ’n donderstorm broei. Ek roep haar nader terwyl ek rustig op die bank sit en die laaste stukkie van die vorige aand se DVD kyk en ek sê: “Miskien moet ons vandag as gesin hier op die bank ons eie kerk hou.” Onder protes stem sy in.
Later die oggend sit ons almal onder komberse en praat sommer oor die lewe en dinge in ’n Christen se lewe. Dit was seker ’n uur later toe elkeen afsluit met ’n gebed. Dit was ’n besonderse tydjie saam en van die grootste tot die kleinste het deelgeneem aan die gesprek. Ons almal het meer geleer en het ’n stuk van God ervaar.
Tog was dit anders as wat ons gewoonte en tradisie is op ’n rusdag. Hierdeur sê ek nie dat tradisie sleg is en by die deur uitgegooi moet word nie, maar soms moet ons egter iets anders langs die tradisie doen, want God praat en werk ook daar. Dit keer dat ons nie later in die tradisie glo en nie in God nie.
Ander kyk na ons vir leiding. Daarom is dit belangrik dat ons altyd sal seker maak dat die manier waarop ons leef, God se manier is. Gewoontes en tradisies mag ons nie vasketting en van die ware, vrymakende evangelie wegrokkel nie.
Teks
Om oor na te dink
Aan watter onnodige tradisies hou jy vas?
Waar moet jy dalk anders doen?
Is God regtig deel van jou lewe?
Gebed
Vader, help my dat ek agter U sal bly aanstap en nie dinge sal doen net uit tradisie of gewoonte nie. Help my om seker te maak dat my optrede nie ander van die pad af trek nie. Help my, Here, om so te lewe dat ander U vryheid sal ervaar en ook daarna sal smag. Amen