God se Woord in vandag se woorde

Nie terug na default nie


Filippense 2:1-5

Daar is tye wanneer ek en my vrou nooit haak nie, maar dan kom daar tye wanneer ons kort-kort vassit. Dan raak ek sommer vies en kan nie glo dat die duiwel nou weer ’n klomp vreugde kom steel nie. Nou kom Paulus ook nog en kom lê ’n eier oor stry en bakleiery: 2Moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie. Konsentreer liewer op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam.

Ek sit lank en wonder hoekom daar so baie gestryery is. Hoekom baklei ons tog so graag, selfs al is ons lief vir mekaar? Ek onthou die preek wat ek by ’n vriend se troue gegee het. Daarin het ek vertel van selfone en ander devices wat almal ’n default setting het.

Dit is die stellings soos wat die fabriek opgestel het. Wanneer ons ’n foon kry, verander ons gou die fabriek se stellings om dit vir onsself pasmaak op te stel. As daar egter ’n fout kom en ’n mens kan dit nie regstel nie, sê die kenners dat jy eers weer jou foon moet terugstel na die fabriek se stellings.

Dit lyk vir my as iemand aan ons torring en die emosies so bietjie begin bykom, val ons terug na ons default settings en dit is die sonde. Na aanleiding van Adam en Eva se dom keuses in die tuin, het ons almal mos ’n flaw – ons het ’n sondige natuur. Dit beteken dat ons die heeltyd wegbeur van God se dinge en die eie ek wil die kaptein wees.

Dit is juis hier waar die probleem lê. Ek raak kwaad omdat die eie ek aangeval word. Ek gebruik alles denkbaar om die eie ek tot die tande toe te beskerm. Ek gebruik enige taktiek en sal stry en baklei totdat die ander een die aftog blaas.

Ons probeer baie keer baie hard om nie kwaad te word en te baklei nie, maar emosies druk gou die knoppie en ons gryp terug na die default settings. Dit gebeur in die beste van families.

Nou hoe nou gemaak? Paulus gee goeie raad. Konsentreer eerder op dit waaroor julle saamstem. Kry gemeenskaplike grond en skuif dit waarmee julle nie om dieselfde vuur kan sit nie, eers op die agtergrond.

Dink maar net aan die verskille tussen al die groepe in ons land. Ons sal nooit die verskille uitgewis kry nie, maar as ons begin praat oor dit waaroor ons saamstem, kan ons lank praat en so nader aan mekaar kom.

Ook die verskillende godsdienste kan tog so maklik baklei en ’n groot stofwolk opskop oor dinge wat eintlik niks met die middelpunt te doen het nie. Ons sit ure en baie energie daarin om mekaar aan te vat oor een of ander teologiese punt, maar eintlik het dit niks te doen met die feit dat ons saam in die verlossing van Jesus glo en as gevolg daarvan gered word nie.

In ons huwelike en ons verhoudings moet ons ook die strategie aanneem. Ons moet konsentreer op dit waaroor ons saamstem. Kom ons soek gemeenskaplike grond. Kom ons probeer ons bes om ons emosies op hulle plek te hou en nie toe te laat dat ons terugskop na default nie. Laat die eie ek eers met rus en soek ’n plekkie waar ons saamstem en ons begin van daar kyk hoe ons die verskille op ’n mooi manier kan oplos.

Kom ons verdedig ten alle koste die ander een en bly so lojaal aan mekaar. Kom ons voel saam, leef saam en doen saam, want op die manier is die tou sterk genoeg om nie te breek nie en vrede sal elke dag ons lewe oorrompel.

Om oor na te dink

Hoe baie baklei jy?

Waar is gemeenskaplike grond?

Waar kan jy meer saam voel, leef en doen?

Gebed

Vader, ek weet dat ons soms te gou terugval na default en dat daar dan te veel stofwolke opwalm van al die bakleiery. Ek is jammer daaroor. Help ons, Here, om tog minder te baklei. Help ons om plekke te kry waaroor ons ooreenstem sodat ons minder konsentreer op die verskille. Help ons, Here, om saam te voel, saam te leef en saam te doen. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek