God se Woord in vandag se woorde

Niks kry my onder nie


2 Korintiërs 3:4-17

Ons het gelees dat Jesus ons pak kom vat het en dat ons nou deel is van die nuwe era. As gevolg van die moewiese daad van Jesus het ons ’n ander uitkyk op die lewe. Wanneer ons na die lewe kyk, kyk ons deur die bril van Jesus se versoeningsdaad aan die kruis. Paulus reageer so: 12Omdat ek weet dat ek ook deel is van die splinternuwe era van die Heilige Gees, die era wat vir altyd sal aanhou, kry niks my onder nie. 

Niks kry my onder nie, sê hy. Ek wens ek kan dieselfde sê, want ek gooi te vinnig al my speelgoed uit die kot as daar net ietsie gebeur waarmee ek nie saamstem nie. Iemand is onregverdig teenoor my, dan wil ek gou weet, hoekom ék, Here? My kar breek, ’n verhouding is op die koffie, iemand anders word bo my aangestel, ’n geliefde sterf, ’n aaklige byl hang oor my kop, die hele besigheid vou. Dis die een brander na die ander. Hoe is dit moontlik dat Paulus so maklik sê: Niks kry my onder nie?

Ek vermoed dit is omdat Paulus na die lewe kyk deur die bril van die Heilige Gees op sy oë. Die Heilige Gees maak dit moontlik om alles duidelik én in perspektief te sien. Met die hulp van die Heilige Gees sien ’n mens die groter prentjie raak en kom jy stadig, maar seker tot verstaan hoe alles in mekaar steek. Let wel dat dit baie maal ’n proses is waardeur ’n mens moet worstel en dat dit nie altyd maklik is nie.

Baie maal kom ons by ’n plek in die verstaan proses waar die verstaan opgeraak het en jy net moet oorgee en sê: Here, ek verstaan nie, maar ek bly glo. Jy sien, daar is eienskappe van God wat ons nooit sal verstaan nie. Dit is juis die onverstaanbaarheid van God wat Hom God laat bly, want as ons alles van God verstaan het, sou Hy nie meer God gewees het nie. Dan sou Hy net soos ons gewees het – op dieselfde vlak.

Wanneer ons die bril van die Heilige Gees op ons oë het, is dit vir ons moontlik om hier by die einde van die pad van verstaan om te draai en vrede te hê dat ons nooit alles sal verstaan nie en daarby berus.

Wanneer ons na ons omstandighede deur die bril van die Heilige Gees kyk, word al ons probleme nie met die swaai van ’n stokkie opgelos nie. Nog minder verdwyn die pyn en seer en swaarkry eensklaps. Tog help die Heilige Gees ons met wysheid en insig, Hy lei ons op die regte paaie en neem ons hand om op die ou end by berusting uit te kom.

Ons moet elke oomblik leef met die wete dat ons bevoorreg is om deel te wees van God se nuwe wêreld. Ons moet ruimte maak en sensitief wees vir die leiding van die Heilige Gees, want dan kan ons die wêreld platloop, dan kan ons teen enige storm vasstaan en bly staan. Nie omdat ons so goed is nie, maar omdat God se Heilige Gees voor stap.

Deo Gloria – aan God kom al die eer toe!

Om oor na te dink

Waarvoor is jy bang?

Hoeveel ruimte maak jy vir God se Gees?

Hoe kan jy meer ingestel wees op die Heilige Gees?

Gebed

Here, ek sien kans vir alles om my as ek hand aan hand met U Heilige Gees stap. Ja, dit is nie maklik om die een golf na die ander te face nie. Al sê ek dit met ’n huiwerige stem, sê ek dit wel: Met U Gees aan my sy sien ek vir enige iets kans. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek