Nog ’n kans
Sjoe! Hoe lekker lag ek nou vir Paulus!
Hy noem ook maar ’n graaf ’n graaf. Hy skryf hierdie persoonlike brief vir sy tjommie, Filemon, met een doel voor oë: Hy moet sy slaaf, Onesimus, terugneem. Onesimus het goed drooggemaak, gedros en gesteel. Maar nou het hy tot inkeer gekom en moet weer terug huis toe.
Paulus het vir Filemon goed geken. Hy het heel waarskynlik geweet Filemon is goed keelvol vir Onesimus en gaan hom nie soos die verlore seun se pa met ope arms terugvat nie. Inteendeel, die kans dat hy hom in sy spore gaan laat omkeer en soos ’n sleg hond gaan wegjaag, is eintlik beter.
Paulus roei en stoei van alle kante af om Filemon se kop te swaai. Hy sal selfs die skuld wat Onesimus bymekaargemaak het, optel. Maar die sleutel van wat nou gaan gebeur, is in Filemon se hande. En Filemon gaan nie sommerso oorgestoot word nie.
Daarom trek Paulus ’n vuil ene op Filemon. 19… Terloops, voordat jy rekenings begin uitskryf, ek hoef jou seker nie te herinner aan wat jy my nog alles skuld nie, of hoe? Jy is jou ganse nuwe lewe as gelowige aan my verskuldig.
Die hou is dalk effe laag, maar Paulus ken sy kliënt en weet hoe om die finale hou in te kry. Hoe kan jy, Filemon, wat so begenadig is en soveel vergifnis ontvang het, dit nie nou wil aangee na die mens langs jou, wat dit eintlik net so min as jy verdien nie? Komaan, Filemon, wees asseblief net regverdig!
Ons sit lekker hier op die kantlyn en wonder hoekom Filemon so bietjie taai is om Onesimus weer terug te neem. Onesimus is ’n nuwe mens. Hy het die Here ontdek en is heeltemal omgedop. Hy is eintlik nie meer ’n slaaf nie, maar ’n broer in Christus.
Jy sien, die probleem lê nie by Onesimus nie, maar eintlik by Filemon. Hy moet hom vergewe, maar meer nog. Hy moet hom nou aanvaar as ’n broer en ’n gelyke en daai is nie so maklik nie.
Ons mense is gerat om ander te laat kry wat hulle verdien. As hulle drooggemaak het, moet hulle hul pak maar vat. En wanneer hulle pak kry, sal ons daaraan dink om te vergewe en te vergeet. Dis ons natuurlike neiging.
Tog is dit nie hoe God werk nie. God vergewe elke sonde waaraan ons kan dink en doen. Hy wag nie eers dat ons pak kry en dan oorweeg Hy vergifnis nie. Nee, Hy vergewe voor die voet, want Sy Seun het mos reeds daarvoor betaal. Hoekom moet ons dan nou ook die pak dra?
En as jy mooi hieroor dink, moet ons almal elke dag op ons knieë neerval en net dankie sê dat ons nie die straf vir ons dade hoef te dra nie, want daardie swaar is te swaar om te dra.
Ons moet onthou hoeveel swaar ons gespaar word. Hoe het ons nie al drooggemaak nie, maar ons kry nie ons loon daarvoor nie. En dit moet ons elke dag uitleef. Ons moet ander vergewe, net soos ons vergewe is. Ons moet die mense wat ons seergemaak het, weer terugneem, want God het ons elkeen weer ’n kans gegee.
So voor jy die boeke neem om die ander se skuld op te skryf, skryf eers jou eie droogmaak neer en trek ’n streep daardeur. Dalk is dit dan effe makliker om die ander een weer in jou huis te neem.
Teks
Filemon 1:15-20
Om oor na te dink
Verstaan jy hoe gelukkig jy is dat Jesus die las vir jou sondes dra?
Aan wie moet jy dieselfde doen?
Indien jy sukkel, hoekom?
Gebed
Vader, dis nie vir my maklik om ander sommer net so te vergewe nie. Ek weet U het vir al my sondes se skuld U Seun gestuur en dat daai pakkie nou van my skouers af is. Maar ek is eerlik as ek sê, ek sukkel om dieselfde te doen. Amen.