Oefen vir die Parkrun
Kliek hier om die teks te lees: 1 Korintiërs 4:18-21
Ek het my eerste Parkrun agter die rug. Dis net 5km, maar vir my het dit soos ’n halfmarathon gevoel. Toe ek die twee kilometer bordjie sien, dog ek daar is nog net twee oor, maar nee, besef ek toe ek veel later die drie kilometer bordjie sien. Ek het ’n berekeningsfoutjie gemaak. Vyf kilometer is vêrder as wat ’n mens dink as jy dit nie met die kar ry nie.
Die view, sê hulle, is mooi, maar ek sien niks nie en hoor net my hart soos ’n groot dieselenjin teen die bult op beur. Dit sukkel, man. En die grootste baklei is om nie te begin stap nie. Dié geveg het ek egter meermale verloor. Ek is later seer op plekke waar ek nie geweet het ek het plekke nie.
So teen die laaste 100 meter begin die mense hande klap. Met die aankoms vra ek verbaas of ek gewen het, maar helaas. Ek besef my vrou het mense opgesteek om my oor die wenstreep aan te moedig. Dis immers my eerste halfmarathon!
Ek staan moeg en wag vir my tyd om aangeteken te word. Ek vermoed een van my hart se pistons het vasgebrand. Maar na ’n minuut of wat en liters water skrik my hart hom weer in ritme. Snaaks, ’n vrede en genoegdoening sluip soos mis oor my wese. Ek is moeg, maar tog voel ek so tevrede. ’n Stukkie vrede kom maak plek en ek besef: Dit waaroor ek al so lankal praat, dit waaroor ek al so lankal droom, dit het ek vandag gedoen. Ek voel moeg en tevrede. Dit het nie net by praat gebly nie. Ek het begin doen!
Eintlik het dit al ’n paar maande gelede begin toe ek in die gym begin stap en fietsry het. Ek het jare, baie jare gesmag om fiks te word en ’n paar kilo’s af te gooi, maar niks het gebeur nie, want sien, ek het die ou groot lyf se enjin nooit aan die gang geskop nie. Nou, na maande waarin ek stadig maar seker die ou aan die gang het, gebeur daar iets. Ek leer ’n groot les: Saam met al die droom en gepratery moes ek ook iets begin doen.
So praat ons ook baie oor God en godsdiens. Ons praat oor die kerk en oor mense wat swaarkry, maar kan mense God se krag in ons sien? Gebeur daar iets? Paulus sê: 20Immers, as iemand ’n kind van God is, sal ’n mens in die manier waarop hy leef die krag van God kan sien. Dit vra baie meer as om net ’n klomp storietjies te maak.
Dit is so ’n bietjie van ’n aanmaning. Praat help nie. Dit het my niks gehelp om te praat en te spekuleer en te droom om my liggaam in shape te kry nie. Ek weet rond is ook ’n shape, maar tog wou ek ’n ander een probeer. Ek moes iets begin doen. Inteendeel, ek moes baie doen. Liters en liters sweet moes vloei. Ja, ek moes selfs my hart druk totdat dit klink soos ’n dieselenjin, maar nou kan ander die effek sien. Weet jy hoeveel boost dit jou as iemand vir jou sê: Jy lyk goed. Het jy gewig verloor?
Paulus vra of mense kan sien wie ons aanbid. Staan mense oopmond verbaas oor die krag in jou? Sien mense die andersheid in jou, omdat die Gees in jou woon en werk?
Dalk het dit tyd geword dat ons ons geestelike tekkies uithaal en begin oefen. Ons moet hard oefen totdat die sweet loop. Ons moet veg teen die begeerte om op die bank te gaan lê en rus. Ons moet plekkies gaan soek waar ons ons energie kan gebruik, want dan sal die mense nie net God se krag in ons lewens sien nie, maar ook aan hulle lywe ervaar.
Om oor na te dink
Hoeveel krag van die Gees is in jou?
Ervaar die mense rondom jou ook God se krag?
Is ander anders omdat jy daar is?
Gebed
Here, ek besef dat die ene my so bietjie oor die vingers tik. Ek weet nie of ander anders is, omdat ek in hulle space is nie. Ek weet nie of hulle U krag ervaar nie. Eintlik is ek nie altyd seker of ek U krag ervaar nie. Help my, Here, om U krag in my aan te skakel en dat ek sal oefen, sodat ander U krag deur my kan ervaar. Amen