God se Woord in vandag se woorde

Om aan ons flaw te werk


(Kruispad ook nou via WhatsApp beskikbaar. Om Kruispad via WhatsApp te ontvang, kliek HIER)

Miskien is dit goed om weer vers 5 stadig deur te lees: 2Moenie voor op die wa wees nie en behandel ander mense so dat dit vir hulle lekker is om by julle te wees. As iemand jou kwaad maak of irriteer, beheer jouself deur steeds mooi teenoor hom op te tree. Laat liefde julle lojaal teenoor mekaar hou, ook wanneer julle voel julle het nou vir eers genoeg van mekaar gehad.

Lees mooi wat die vers sê. Die vers sê nie dat dit altyd voor die wind met ons gaan nie. Die vers stel nie ’n sprokieswêreld voor waar daar nooit dinge gaan gebeur wat ons teen die muur gaan uitdryf nie. Nee, die vers skets eintlik ’n ware prentjie van die lewe.

Daar gaan definitief tye kom wanneer mense dinge gaan doen wat ons erg vies maak. Daar gaan tye kom wanneer mense dinge gaan doen wat ons laat wonder hoekom hulle op die aarde is. Soms gaan mense dinge doen wat ons bloed oombliklik gaan laat kook. Eintlik kom verf die vers vir ons ’n prentjie waarin ons ons gereeld bevind.

Die vers konfronteer ons eerder met die vraag: Wat doen jy as die gewone lewe gebeur en iets gebeur wat nie deel is van jou prentjie van die lewe nie? Wat is jou reaksie op dinge wat nie werk soos jy wil hê dit moet werk nie? Hoe ervaar ander mense jou as hulle iets gedoen het waarmee jy nie saamstem nie?

Ek vermoed baie van ons trap hier in ’n gat. Ek vermoed baie van ons slaan hier neer, want van liefde is daar geen sprake van nie. “Dit is menslik om soms jou gasket te blaas en stoom af te blaas”, sê ons vir mekaar. Dit is eintlik ’n natuurlike reaksie. Maar alhoewel dit uit ons fondasie kom, is dit nie reg nie. Ek hoop nie iemand byt nou my kop af nie, maar ek vermoed die optrede kom uit ons sondige natuur. Hierdie dat ons so vinnig met die tong is en verkeerd reageer op dinge wat nie vir ons reg loop nie, is iets wat ons uit ons BC (before Christ) dae saamsleep. Ons moet iets daadwerkliks hieraan doen.

Dit is belangrik om dit te besef. Eintlik moet ons besef dat daar ’n flaw in ons almal is en ons moet gereed wees om te keer dat daar ’n fout kom. Ons moet besef dat as ons ons nie hieraan gaan steur nie, daar ’n klomp lyke oor die pad gestrooi gaan lê. Sommige van ons moet harder werk as ander. Maar ons moet ons bes probeer dat mense se “verkeerde” optredes (in ons oë) ons verkeerde kant wakker maak, want die gevolg hiervan is nie altyd mooi nie.

Kom ons wees nou maar eerlik: Dis nie maklik nie.

Om die brug oor die uitdaging te bou het Paulus ’n eenvoudige voorstel: Liefde. Elke keer wanneer ander mense jou irriteer, vra jouself af of die liefde wat jy vir hulle het, sigbaar is in jou reaksie. Wil die persoon nog by jou wees as jy uiteindelik ’n punt aan die einde van jou reaksie sit? Of wil hy of sy eerder êrens gaan wegkruip?

By die meeste van ons is dit ’n werksarea. Die meeste van ons het nog nie geleer om hierdie van ons volkome aan te spreek nie. Ons kry dit eenvoudig net nie reg om in omstandighede waar mense nie doen soos ons dink hulle moet doen, liefdevol op te tree nie. Soms is ons lewe net te wit en swart en het ons nie ruimte vir die ander een se manier van doen nie.

Dis tyd vir ’n pen inslaan. Dis tyd dat ons sal besef dat dit nie binne die wil van God is nie en dat Hy wil hê ons moet verander. Nee, eintlik is dit ’n opdrag. Ons sal moet werk daaraan, veral daar waar dinge nie gebeur soos ons wil hê dit moet gebeur nie, dat ons selfs daar op so ’n manier sal reageer en optree dat dit nog steeds lekker vir ander sal wees om by ons te wees.

Hier het ons vir seker versterkings nodig…

Teks:

Efesiërs 4:1-10

Om oor na te dink

Waar irriteer mense jou?

Hoe tree jy op as dinge nie loop soos jy wil hê nie?

Hoe kan mense geliefd voel, al vang hulle in jou oë onnosele dinge aan?

Gebed

Here, Here. Hoe swak is ons mense tog nie! Hoe seer het die sonde ons mense nie gemaak nie! Ek besef maar net weereens dat ons swak is en nie altyd doen soos U wil hê ons moet doen nie. Weereens besef ek my eie swakheid en onvermoë om liefde in alle omstandighede te leef. Help my, asseblief. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek