Om al die stoppe uit te trek
Paulus en Timoteus trek alle stop uit om God te dien. Hulle kan nie wag om soggens op te staan om God se nuwe boodskap aan die wêreld oop te breek nie. Hulle los geen klip onaangeraak nie. Met alles wat hulle het, dien hulle God.
Ek wonder of ek dieselfde passie as hulle het?
1Paulus en Timoteus, twee mense wat Christus Jesus dien met alles wat hulle het…
Boetie het dieselfde passie:
So ’n klompie jare terug gaan my swaer en ek op ’n mannekamp by EKSDERDE, ’n kampterrein wat buite Pretoria naby Derdepoort bedryf word deur boetie Jan.
Ons geniet die kamp terdeë en word bevry van ’n magdom dinge waaraan ons voorheen skuldig was, onder andere Vrymesselary.
Kwaaijongens wat ons is, besluit ons om weer vir die kamp te bespreek en ook namens ons maters in te skryf.
Nou moet jy mooi begryp dat die maters almal so bietjie aan die rowwe kant is. Jy gooi niks behalwe brandewyn in sy brandewyn nie.
Ons nooi hulle toe uit na “’n Vriend se bachelor’s party” waarvoor hulle elkeen R300 moet opdok siende die drank en kos dan nou uit ’n “kietie” gekoop sal word en dit ’n naweekfees sou wees.
Vrydagmiddag daag almal behalwe een betyds op. Terwyl ons vir die laatkommer wag, gebruik die manne steeds verversings, net om in die mood te kom.
Uiteindelik kom ons weg uit Pretoria en kry koers op die gevreesde Mamelodi pad. By EKSDERDE draai ons van die teer af op ’n tipiese plaaspaadjie.
Die bus kom tot stilstand en die manne begin raas-raas uitklim. Die stilte om hulle laat hulle onraad vermoed.
So sit ons met ons beskonke maters die Vrydagaand in rondawels wat vir die groepleiers bedoel is, terwyl die res van die manne in die groot saal besig is.
Saterdagoggend vroeg kry ons die babelaas klomp om ontbyt af te wurg en om in te skakel by die res van die groep se aktiwiteite.
Lang storie kort, Sondag oggend, met die eerste aktiwiteite word boetie Piet gevra of hy kans sien om hulle te doop.
In die middel van die winter is daar water in die swembad gepomp en hier by middagete is die hele groep saam gedoop.
Dit was die einde van elke dag se drinkery en klubs toe gaan. Sondae in die kerk en die res van die week besig met gemeenteaktiwiteite.
Dankie, Vader, dat ons as instrumente kon optree om ons maters se redding te bewerkstellig. Waar ons voorheen drinkebroers was wat me
mekaar beskerm het in gevaarlike situasies, was ons nou boeties wat sonder dop en sonder skroom of slimmighede kon hande vat en saam vorentoe beweeg.
Alle ere aan God.
1Paulus en Timoteus (en Boetie), twee (nee, drie!) mense wat Christus Jesus dien met alles wat hulle het…
Is jy deel van die span?
Om oor na te dink
Met hoeveel passie dien jy God?
Trek jy alle stoppe uit?
Of wonder jy wat die mense sal sê?
Gebed
Here, ek moet bieg dat ek nie aldag die guts het om enige iets vir U te doen nie. Sommige kere is ek net te skaam of te lui of wat ook al, maar ek bly stil. Ek wil ook alles vir U doen. Eintlik kan ek nie anders nie, maar ek sukkel. Amen