Om ander in nood te help
Ek glo met my hele hart dat die kerk ter wille van die mense wat in die gutters van die lewe lê, bestaan. Dit is die kerk se eerste taak. Die bymekaarkom en bepreek word en lekker saamsing is nie die hoofmoment van kerk-wees nie.
Al was die gemeente van Korinte nog jonk, help Paulus hulle met hope praktiese raad om vir hulle mede broers en susters wat so swaarkry in Jerusalem ’n geldjie opsy te sit: 1Ek wil ook nog ’n bietjie met julle praat oor die geld wat julle vir die Christene in Jerusalem bymekaargemaak het. Maak asseblief soos ek met die mense in Galasië gereël het.2Sondae moet elkeen van julle iets opsy sit, afhangende van wat hy daardie week verdien het. Spaar dit sodat ons nie ’n ekstra klomp geld hoef in te samel wanneer ek daar by julle aankom nie.
Daar is altyd swaar oral rondom ons. Soms gebeur daar slegte dinge met ’n mens waarin jy glad nie eens ’n keuse gehad het nie. Mense verloor hulle werk. ’n Ongeluk tref hulle en voor hulle hulle oë uitvee, sit hulle in tamatiestraat.
In die begin van die jaar staak die platinum myne. ’n Rekord staking van 5 maande. Die slim mense werk uit dat die geld wat hulle in die 5 maande verloor het, nooit weer opgemaak sal word nie. Dit gaan sleg in die myndorpe. Mense se geldsake se wiele kom heeltemal af. Mense verloor hulle huise en karre en op die ou end ’n stuk van hulle menswees.
Maar gelukkig is daar ook mense wat omgee. Daar is boere wat trokke vol kos gee. Daar is organisasies wat aan die werk spring en kospakkies by mense se huise gaan aflaai. Ek kom te hore van ’n dorpie in Mpumalanga waar die mense 30 ton kos bymekaargemaak het om aan die mense wat sonder inkomste is, uit te deel. Die skool op die dorp het ’n fondsinsameling gehou. Die hoof sê:
“Hou dit maar stil, want ons plaas nie hierdie bydrae in koerante nie, omdat ons die kinders leer dat dit deel van jou tiende is en dat ’n skool nie sy beeld poets op hierdie wyse nie.”
Dit is kerk. Dit is hoekom ons bestaan. Om ’n verskil in ander mense se lewens te maak en, sê Paulus, ons moet hiervoor begroot. Sit elke maand ’n stukkie weg vir wanneer die nood van ander aan jou deur kom klop, sodat jy gereed kan wees om sonder huiwering te gee.
En dit beteken nie dat ons vir elke persoon wat aan die deur kom klop geld moet gee nie. Baie mense misbruik ander en sal enige storie vertel om verniet geld in die hande te kry. Lang stories wat alles behalwe die waarheid bevat. Daarom is dit beter om jou hulp via ’n organisasie of kerk te gee wat jy weet die fondse wys sal aanwend.
Mag ons tog nooit die verantwoordelikheid verloor om mense wat in nood is, te help nie. Mag ons ook beplan en ’n gedeelte van ons inkomste opsy sit, sodat ons gereed is om ook op die manier Jesus se hande en voete te wees.
Om oor na te dink
Beplan jy sodat jy ander kan help?
Hoeveel moet jy wegsit?
Waar kan jy ’n verskil maak?
Gebed
Here, U gee vir ons genoeg. Help my om ’n oop hand te hê en ander namens U te help. Amen