Om in ander se skoene te klim
Kliek hier om die teks te lees: 1 Korintiërs 9:19-23
Ek help my mentor om ’n website te bou. Ek wys woeps-waps vir hom ’n paar goeters, sê dit is so maklik soos 1-2-3 en dan is ek weer daar weg. As ek op ’n volgende rondte daar kom, sien ek die frustrasie by sy kantoordeur uitloop en hy is nie ’n stukkie vorentoe nie. Dit slaan my soos ’n plank toe ek onthou hoe ek ook aan die begin gesukkel het. Ek het nagte deurgewerk, my oë was rooi en ek so gefrustreerd dat ek teen die mure wou uitklim. Voordat jy nie die dinge onder die knie het nie, is dit soos ’n berg wat voor jou lê en die handdoek wat jy nou en dan wil ingooi, lê hier neffens jou. Elke keer as ek wou sê dis maklik, byt ek my tong vas en dink aan die kere wat ek self gesukkel het.
’n Vrou vertel dat sy sukkel om op te hou rook en voor ek my kom kry, sê ek dat dit maklik is, want ek het self in ’n stadium gerook. Maar soos ons aanhou praat, onthou ek hoe moeilik dit was en hoeveel keer ek gefaal het. Ek het geweet dat dit nie goed vir my liggaam was nie. Elke keer as ek daai gedeelte lees van ons liggaam is die tempel van die Here, het dit my gepla dat die Here so in die rook moes bly. Dan het ek belowe en dit gelos, tot ek die cravings nie meer kon hou nie. Dan koop ek mos eers net een losse by die kêffie om die draai. Ek het presies geweet waar die losses te koop was. Maar dit was nie lank nie of ek koop ’n pakkie skaam (mos die pakkies van 10 – soos hulle hier in die Kaap praat!) en as ek my weer kom kry, koop ek ’n pakkie van 20. Toe ek eers in haar skoene klim, onthou ek dat dit nie so maklik is nie.
Voordat jy jou mond oopmaak en iemand iets wil leer of selfs wil bemoedig, moet jy eers in daardie persoon se skoene klim. Wees sensitief vir daardie een se omstandighede en behoeftes. Moenie net hier vanaf jou stoeltjie instruksies skree en tevrede daar wegstap nie. Wanneer iemand ’n geliefde aan die dood afgestaan het, soek ek nie gou ’n paar vertroostende tekste en pos dit aan nie. Nee, ek verplaas my terug na die tyd toe ek self gesukkel en gestruikel het by die grafte van my geliefdes. Ek probeer die bril van die ander persoon opsit en die wêreld deur hulle seer oë sien. Dan eers is die troos meer as net versies en kan dit ware vertroosting bring.
Dit is presies wat Paulus doen. Paulus trek alle stoppe uit om seker te maak dat Hy die ander een se omstandighede verstaan. Hy gaan staan in hulle skoene en kyk na die lewe deur hulle oë. Kyk net hoe vêr vat hy dit: 22As ek tussen mense is wie se geloof nie sterk is nie en wat nog met allerhande probleme sukkel, probeer ek my gedurig in hulle posisie indink sodat ek hulle kan help om beter Christene te word. Wat daar ook al van my gevra word om mense na die Here toe te lei, is ek bereid om te doen. Sjoe, Paulus was darem gedring deur God. Hy het orals waar hy gaan, al sy energie ingesit om die mense wat van die pad af is van Jesus te vertel.
God wil ons elkeen gebruik daar waar ons werk, woon en speel. Hy wil hê dat ons ander moet help, want Hy wil hulle help. God wil hê ons moet sy hande en voete wees. Daarom moet ons soos Paulus sensitief wees vir die stem van die Gees: 21… Ek moet luister na wat Jesus van my vra. As ek my egter so by die mense aanpas, kan ek ook van hulle na Jesus toe lei. As ek so terugkyk na my lewe, weet ek dat ek ’n hele paar van die gesprekke gemis het. Ek weet dat daar plekke was waar God wou hê dat ek ander moes help, maar waar ek eenvoudig net te besig was om die lewe te leef, waar ek te doof was om sy stem in my lewe te hoor.
Daar is baie mense daar buite wat net soos ons gesukkel het om die lig te sien. Dalk is dit goed vir jou om weer in hulle skoene te klim en te ervaar hoe lost ’n mens kan voel. ’n Mens voel so alleen en daar is nie veel hoop vir die toekoms nie. Ons het die antwoord. Ons weet hoe maklik dit is om Jesus aan te neem as jou Saligmaker, maar vir hulle is dit nie so maklik nie.
Wees sensitief vir die leiding van die Gees en weet dat God jou wil gebruik om ’n verskil in ander se lewens te maak. Laat die passie om in God se Koninkryk te woel jou dring en gaan doen dit wat God wil hê jy moet doen daar waar jy woon, werk en speel.
Om oor na te dink
Waar moet jy in ander se skoene gaan klim?
Wat moet jy daar doen?
Wat moet jy daar sê?
Gebed
Vader, soms wonder ek hoekom U soveel vertroue in my stel om ’n verskil in die wêreld te gaan maak. Tog weet ek dat U met ’n krom stok soos ek ’n reguit hou kan slaan. Help my dat ek my guts sal vat en ook al my gawes as tools en ’n verskil gaan maak daar waar U wil hê. Help my om sensitief te wees vir ander mense se manier van dink en doen. Amen