Om ander in tamatiestraat te help – Romeine 12:9-21
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 12:9-21
Uit die vorige gedeelte het ons gehoor dat ons moet bid as ons swaarkry. Dis nie altyd maklik nie. Maar sonder om ’n beat te mis, kom Paulus en sê ons moenie hier vasgeval bly nie. Ons moenie so in ons eie omstandighede vassit dat ons die kans laat glip om ander wat self swaar kry te help nie. 13Help ander gelowiges wat swaarkry. Wees gasvry. Stel julle huise tot beskikking van gelowiges wat nie ’n plek het om tuis te gaan nie.
En ek hoor sommer jou skree van mismoedigheid, of is dit uit plain lamheid. Hoe kan ’n mens ander help as jyself in soveel nood sit? Ek sit hier in tamatiestraat vas, waar moet ek die krag kry om nog ander te help ook?
Ek het dit al in my eie lewe ervaar hoe mens juis krag kry wanneer jy ander help. As jy so moeg is dat jy nie jou een voet voor die ander kan sit nie en die ontydige nood van iemand anders kom op jou voorstoep staan, en jy doen tog ietsie daaraan, kry jy ewe skielik weer krag. Daar kom ’n gevoelente van vrede en vreugde oor jou en jy sien weer kans vir jou eie geswoeg in tamatiestraat. Dit is so. Gaan probeer dit.
Ek dink dit het iets te doen met die feit dat jy besef daar is ander met baie meer probleme as jy. Ewe skielik sien jy al die dinge wat jy het om jou raak. Die golwe van jou probleme kom in perspektief en dit lyk skielik glad nie meer so erg nie. Ja, jy sien raak dat jy ’n bed het om op te slaap, kos het om te eet terwyl die ou hier langs jou in tamatiestraat niks daarvan het nie.
Corrie vertel dat hulle in die Voorstrand met mense werk wat niks het nie. Hulle vertel vir hulle die goeie nuus, maar help ook met die fisiese nood en gee kos en klere. Sy vertel dat wanneer die mense iets ontvang en die mense weet daar is iemand anders wat ook nie kos het nie, sal hulle self net die helfte eet en dan die res vir die ander mense neem. Met vuil hande kan die honger persoon nie vinnig genoeg die kos in hul monde druk nie. Lewensreddende kos van ’n mede-bergie. Maar die bergies gee meer as net die kos. Corrie vertel dat as daar gebid word, sal die bergies ander se name opgee vir wie gebid moet word. Die wat dan so swaar kry en niks het nie. Maar meer nog. Soms vra die bergies of daar iets is waarvoor hulle vir Corrie en die ander medewerkers kan bid.
Die mense wat swaarkry, die mense wat in tamatiestraat woon, die mense wat niks het nie, eet net die helfte van die bord kos. Hulle ontvang die seën van gebede, maar bid self vir seën vir die wat selfs minder as hulle het en vra ook dat God dié seën wat hulle nood verlig.
Sien jy waar kry jy die krag (of die seën) in tamatiestraat?
Daarom die opdrag aan my en jou: 13Help ander gelowiges wat swaarkry. Wees gasvry. Stel julle huise tot beskikking van gelowiges wat nie ’n plek het om tuis te gaan nie.
Om oor na te dink
Waar is daar nood?
Waar kan jy help?
Wat wys God nou vir jou?