God se Woord in vandag se woorde

Om die engele te help fight


Efesiërs 6:10-20

Dis nie altyd maklik om staande te bly in die wêreld daar buite nie. Om elke hoek en draai word ons versoek. Die meeste van die kere kom ons dit nie eens agter nie, want almal doen dit. Dis eintlik hoe die lewe werk. As ons nie gaan saamdoen nie, gaan ons die mense wees wat uitstaan en op alles uitmis. Maar staan ’n slag terug en vra vir jouself of die lewe wat jy nou leef, is soos Hy dit picture.

Hier om ons is ’n oorlog aan die gang en die meeste van ons besef dit nie. Sonder om spoke op te jaag, moet ons besef dat daar magte is wat ons uit die hande van die Here wil ruk. Geen moeite word ontsien om ons van God weg te rokkel nie.

Maar ons kan iets daaromtrent doen. Ons moet onsself voorberei en toerus vir die oorlog:  11Laat ek die voorbeeld van soldate in ’n oorlog gebruik. Trek die klere aan wat God vir julle gegee het om mee te veg sodat die duiwel julle nie sommer om die eerste hoek en draai met al sy slim planne oorrompel nie. Een ding moet julle weet. Daar is ’n oorlog aan die gang en ons veg ook daarin.

Dalk sal mense sê dat ons nou die duiwel te veel eer gee. Nee, dis nie so nie, maar soms moet jy jou oë oopmaak en die rose ruik. Hier is ’n fight aan die gang en alles gaan oor ons.

Frank Peretti se storieboeke (The Present Darkness, Piercing the Darkness en andere) het my oë oopgemaak vir die lewe hier naas ons. Op ’n boeiende manier stel Peretti jou bekend aan ’n wêreld waar engele en demone heeldag in ’n stryd gewikkel is om jou lewe. Ek glo in engele en ek bid elke dag dat God se engele my en my gesin sal beskerm.

Jip, daar is ’n oorlog aan die gang. Ons moet dit besef en ons moet ons daarvoor voorberei. Ons moet ons oë en ore in tune bring, sodat ons kan sien wanneer dinge in ons lewenspad gegooi word wat nie van God kom nie. So maklik word iets met ’n mooi sousie gekamoefleer, maar sodra ons deur die sousie kyk, sien ons die sluwe planne van die duiwel daar agter.

Die reg-en-verkeerd word deesdae so naby mekaar gesit dat ons nie meer weet wat is reg en wat is verkeerd nie. En dis presies waar die duiwel sy kans aangryp en voor ons ons kom kry, is ons vasgevang in die sonde.

Toe ek in die weermag was, het ons baie opleiding ontvang om onsself teen die vyand te staal. Ons het ook baie opleiding ontvang oor wie die vyand is en wat hulle aanslag is. Met hierdie inligting kon ons onsself bemagtig en beskerm en seker maak dat die vyand ons nie onverwags oorrompel nie.

Net so moet ons bewus wees van die slim planne van die vyand van God se kinders. Ons moet weet watter taktiek hy gebruik om ons te mislei. Ons oë en ore moet skerp genoeg wees om te weet as hy ons met ’n slenter probeer vang.

Die oorlog is aan die gang! Besef dit! Trek die army-klere aan en veg saam. Skaar jou aan die kant van die engele.

En die belangrikste van ons taktiek is om so na as moontlik aan God te leef. Sodoende sal jy sterk bly staan tot die einde.

Om oor na te dink

Glo jy dat daar ’n oorlog aan die gang is?

Glo jy dat die engele aan jou kant is?

Help jy hulle?

Gebed

Here, soms wil ek nie aan die oorlog dink nie. Soms skram ek daarvoor weg. Tog weet ek dat ek nie hoef nie, want U en U engele is aan my kant. Saam wen ons. Ek wil deur die dag so lewe dat ek dit vir die engele maklik maak om die geveg te wen. Amen

 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek