Om die Evangelie te hoor, te sien en te verstaan – Romeine 15:14-21
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 15:14-21
Paulus het ’n eenvoudige motto vir sy lewe: Gaan dra die Evangelie uit orals waar dit nog nie gehoor is nie. Reguit en in eenvoudige taal draai hy nie doekies om nie:20Ek het vir my een doel voor oë gestel: ek moes in plekke gaan preek waar mense nog glad nie van Christus gehoor het nie. Dit is nie my taak om die evangelie te gaan verkondig waar mense al klaar die evangelie bekendgemaak het nie. 21My leuse word in die volgende Bybelteks saamgevat: “Daardie mense wat nog nie van die Here gehoor het nie – hulle sal Hom sien! Hulle wat nog glad nie van Hom gehoor het nie – hulle sal verstaan waaroor dit alles gaan!”
Sien jy die passie raak? Hy het ’n vuur in hom wat brand. ’n Vuur wat nie gaan toelaat dat enige iets hom keer nie. Hy wil mense wat nog niks van Jesus weet nie, gaan vertel. Maar meer nog: hy wil hê dat die mense vir Jesus moet sien. Maar selfs meer as dit: hy wil hê mense moet die reddende Evangelie verstaan en deel maak van hul hele bestaan. Dit is Paulus se brandende begeerte. Net dit. En geen klip sal hy onaangeraak laat, geen obstruksie in die pad sal te groot wees in sy strewe om sy roeping uit te leef nie.
Hoe groot brand die vuur in jou om die reddende Evangelie uit te kry by die mense wat dit nog nie gehoor of gesien het nie? Hoe groot brand dit in jou om die mense wat hulle oë wegdraai van God weer te help sien. Die vriende en familie wat vasgeval is in die wêreld se manier van lewe, wat doen jy om hulle weer bekend te stel aan Jesus wat ook vir hulle sonde aan die kruis gesterf het?
Die brandende begeerte laat dink my aan ’n e-pos wat ek ontvang het. Dit is van ’n moderne Paulus. Iemand wat gedring was deur ’n brandende vuur. Oom Jan gee in ’n paar lyne ’n vinnige opsomming van die paaie wat hy deur sy lewe moes stap. Hou die brandende begeerte om mense van God te vertel, dop:
Ek het jare gelede die roeping gevoel om in die bediening te tree, in 1957 is ek op 19 jarige ouderdom kollege toe. In my proeftydperk was ons in ’n motorongeluk waarin ek my vrou verloor. Daarna is ek terug ambag toe. Vir sewe jaar het ek jaarliks studieverlof gevra, en daarna my naam van die kerk se register as potensiële voltydse werker laat verwyder. Al die jare was ek egter baie aktief, en het op alle denkbare rade in die kerk gedien om sodoende my begeerte uit te leef.
In 1983 het die maatskappy vir wie ek gewerk het my na ’n ander dorp verplaas. Na baie gebed het ek dit aanvaar. Tog het my finansies totaal hier uitgerafel, en ek het later werklik geglo dat ek nie regtig God se stem gehoor het nie. Maar ek het vasgebyt en deurgedruk.
In 1998 het die plaaslike pastoor my gevra of ek sou belangstel om terug te keer na die bediening. Aangesien dit my lewensbegeerte was, het ek onmiddellik ingestem. Ek moes weer voor baie rade verskyn, my aktiwiteit loopbaan is getoets en deur die kuratorium goedgekeur.
In April 2003 is ek amptelik as pastoor ge-orden, maar in Mei van dieselfde jaar het ek 65 geword en ek moes volgens reël aftree.
Vandag op 75 is ek nog steeds in voltydse bediening in dieselfde gemeente, en versorg ±115 seniors. Ten spyte daarvan dat ek aanvaar het dat ek nie die Here gehoor het met my verplasing na Mpumalanga nie, het Hy op die regte tyd deurgekom en ook vir my grystyd voorsiening gemaak. Vandaar my stelling:- wag maar, as God se kind sorg Hy wanneer jy dit regtig nodig het, en Hy gee jou die begeertes van jou hart.
Sjoe, is dit nie ’n wonderlike verhaal van iemand wat te midde van baie en groot obstruksies aangehou het om sy passie om voltyds in God se diens te staan, na te jaag nie. Amper soos ’n moderne Paulus. Oom Jan wou hê dat almal van Jesus moes hoor. Alle mense moes Jesus sien. Almal met wie hy in aanraking kom, moes die Evangelie van hoek tot kant verstaan.
Dan kry ek so effe skaam as ek besef dat ek baie meer gemoeid is met my eie dinge en my eie toekoms.
Mag God ons help om die vuurtjie binne ons groter te laat brand, sodat ons aangevuur kan word om daar waar ons woon, werk en speel vir ander die verlossende Evangelie te laat hoor, sien en verstaan.
Om oor na te dink
Hoe hoog brand die vuur in jou?
Hoe moet ander die Evangelie hoor, sien en verstaan?