Om die Evangelie te share
Kruispad het ’n paar jaar gelede begin met ’n paar e-pos adresse van vriende en kennisse wat ek op my rekenaar gehad het. Na ’n paar jaar kry duisende mense die Kruispad stukke. Hoe het dit gebeur? In rekenaar-taal praat ons van user driven.
Die gebruikers het hulle vriende en familie aanbeveel. Dit is wonderlik om te sien hoe die tegnologie vandag enige nuus vinniger as ’n veldbrand laat versprei. Tog weet ek dat dit nie net die IT is wat dit so laat rol nie. Nee, die Heilige Gees doen die voorbereidingswerk. Dis Hy wat in die mense se harte werk. Dis Hy wat hulle laat besluit om die forward knoppie te druk.
So sê Paulus ook: 13Die Heilige Gees werk deur ons almal. Dit is Hy wat ons laat glo. Ons doen daarom maar net wat een van die Psalms sê: “Omdat ek in God glo, praat ek oor Hom.” Ons glo in Jesus; daarom is ons ook bereid om oor Hom te praat.
Ek wonder hoe vinnig sou die nuus oor Jesus gevlieg het as daar internet en sosiale media in sy tyd was. Die lyne sou gegons het en binne ’n paar uur sou die hele wêreld Jesus stap vir stap op elke liewe nuuskanaal dopgehou het. Dis radikale nuus. Dit is lewensgewende nuus. Dit is goeie nuus wat elke mens moet hoor.
Die nuus:
14Ons weet dat God ons Here Jesus lewendig gemaak het en dat Hy ons ook eendag weer lewendig sal maak. Op daardie dag sal ons almal saam voor sy troon staan.
Die wêreld het die nuus so nodig. Dit is so donker daar buite. Mens val oor mekaar in die donker. Almal is op soek na uitkoms en ons Christene sit met die enigste oplossing. Jesus het die dood oorwin. Hy het in ons plek die pak kom vat en daarom kan ons eendag deur die poorte van die hemel stap en voor God by die troon gaan sit en begin lewe aan die ewigheid.
Dit is die wonderlikste nuus wat enige iemand ooit kan hoor en Paulus besef dit. 15Daarom preek ek en daarom ly ek al hierdie dinge ter wille van julle. Op hierdie manier kan God se goedheid by nog meer mense uitkom. Dan is daar nog meer mense om Hom te dank. So word God se Naam grootgemaak.
En eintlik is dit ons elkeen se verantwoordelik. Hoekom sal ons dan die goeie nuus vir onsself wil hou? As ek hoor van ’n bargain vertel ek dit vir almal met wie ek in aanraking kom. Ek wil hê dat hulle ook moet deel in my vreugde. Hoeveel te meer moet ons nie vir ander vertel van die lewe na die dood nie. Hoekom sal jy nou die een wees wat die vrymakende nuus weerhou van jou familie, vriende, kollegas en selfs die vreemdeling wat oor jou pad aangestrompel kom?
Deesdae is dit so maklik om net die share of beveel-vriende-aan knoppie te druk. Wie weet, dalk is die grond presies reg vir die saadjie om te ontkiem. Daarom moet jy nie ophou saai nie. Wees sensitief om te weet wanneer die Gees wil hê jy moet God se vrymakende boodskap saai en doen dit. As almal dit doen, sal daar geen keer wees nie en sal God se boodskap uitkom daar waar dit die nodigste is.
Om oor na te dink
Waar kan jy saai?
Wie in jou omgewing het die vrymakende boodskap van Jesus nodig?
Op watter manier wil God hê moet jy saai?
Gebed
Onse Vader, ek wil ook soos Paulus die passie hê om orals waar ek gaan die boodskap uit te dra. Daar is soveel mense wat die boodskap broodnodig het. Help my om sensitief te wees en te weet wat ek vir wie moet aanstuur. Help my om nie my mond stil te hou oor U nie. Amen