God se Woord in vandag se woorde

Keer vir die clutch wat gly


Daar gebeur gereeld dinge wat ’n mens teen die dak uit dryf. Mense doen dinge wat in my oë plain stupid is. Mense maak verkeerde keuses en baie keer is dit ek wat met die gebakte pere in die hand staan. En dit begin sommer hier in die badkamer waar die klong al weer sy klere net so op die grond gelos het. Wie dink hy moet dit optel?

Sit ek my voet net by die deur uit, sien ek dat die manne wat die pad geteer het, al hulle gemors op my mooi gekamde gras gesmyt het. Ry ek net ’n entjie af in die pad, dan ry ’n tannie reg voor my in. Toe ek boos vir haar toet, kom ’n klein handjie op en wuif grasieus vir my.

En so kan ek aangaan met klomp stories waar ek elke dag gekonfronteer word met mense en hulle aktiwiteite wat lynreg indruis teen hoe ek dink ’n mens moet lewe. Ek weet jy kan ook vir my honderde voorbeelde gee van waar die gesin, mede- werknemers, werkgewers en selfs vriend en vyand dinge aanvang wat jou terstond boos maak en jou bloed ver oor 100°C stuur.

En die ergste van alles is dat ons nie veel hieraan kan doen nie. Kort-kort moet ek my vrou keer om te sê dat dit nie veel gaan help om met daai ou te gaan praat oor die dom ding wat hy gedoen het nie, want jou woord gaan net by die een oor in en by die ander een uit. Ja, soms moet ons ander vertel van hulle foute en hulle help om dinge reg te doen.

Wat ons wel kan doen, is om eerste aan ons reaksie op die stupid optrede van ander te werk. So maklik verloor ons beheer as ons bloed koop. Ek weet nie wat dit is nie, maar hoe hoër die temperatuur van die bloed wat kook, hoe minder beheer het ons oor ons reaksie. Ek moet erken daar is dinge wat my terstond so die dinges in maak dat ek geen keer het wat by mond aan die uitstroom is nie. En ek is natuurlik na die tyd kwaad vir myself dat ek so opgetree het. Kyk nè, dis niks lekker om na die tyd soos ’n hond met sy stert tussen die bene terug te stap en verskoning te gaan vra vir my tirade nie.

Daarom waarsku Paulus in groot rooi letters: 31Moenie toelaat dat julle bitter word nie. Beteuel jou humeur en as jy dalk jou humeur verloor, moet jy nie kwaad bly nie. Moenie mekaar vloek of lelike dinge vir mekaar sê nie. Moet ook nie iets doen wat vir ’n ander een sleg is nie.

Hoor mooi hier: Ons almal het ’n humeur. Jy hoef nie daaroor skuldig te voel nie. Die opdrag is nie om jou humeur uit te pluk en weg te gooi nie. Ons kan dit in ieder geval nie doen nie. Nee, die opdrag is om jou humeur onder beheer te bring. Daartoe is jy in staat. Jy kan jou reaksie op ander se dom dinge beheer. As jy dit nie beheer nie en jy verloor dit, is daar perde. Dan kan jy jou reaksie nie beheer nie. Dan jol dit soos ’n wilde vuur deur droë bosse en saai net amok.

Nou is ons mos mens en ja, soms kry ons dit nie reg nie. Soms tree die ander persoon op so ’n manier op dat ek eenvoudig nie my humeur kan keer nie. Dan, sê Paulus, moet ons tog nie lank met die donderweer in ons rondloop nie. Dis nie goeie nuus vir die ander persoon nie en nog minder vir jou. Wanneer daar ’n lang stilte tussen mense is, noem ek dit verbal abuse, want vir my is dit ’n vorm van mishandeling. Die gevolge is net negatief en afbrekend.

Ons moet besef dat die duiwel ons verhoudings target. As hy hier verwoesting kan saai, rig hy groot skade aan. Ons moet hiervan bewus wees en dit glo en ons daarteen staal. Ons moet van ons kant af doen wat ons kan. Sit ’n paar wagte langs jou humeur. Keer voor dit te laat is en as die clutch gly, wees die minste en gaan maak reg. Probeer volgende keer so effe harder.

Hier is ’n grappie om die humor terug te sit in ons verhoudings!

Die tannie is baie siek.  Die oom sit by haar en hou haar hand vas. Oom: “My vrou, ons het ’n wonderlike lewe saam gehad en daar is niks wat ek nie weer sal doen as ek kan nie.  Daar is net een ding wat ek jou graag wil vra voordat dit te laat is – daardie trommel op die kas.  Ek het jou jare gelede daarna gevra en jy het gesê ek moet jou nie weer vra nie, want dit is regtig die enigste geheim wat jy vir my het.  Maar dink jy nie dis nou tyd nie?”

“Nou gaan haal dan maar die trommel en maak dit oop”, sê sy.

So gesê en so gedaan. Binne die trommel is twee gehekelde doilies en ’n allemintige pak R100- en R200-note.

Sy verduidelik: “Die dag voor ons troue het my ma my gesê ek moet altyd die minste wees as ons dalk ’n argument het. Maar, omdat sy my geaardheid geken het, het sy my gesê hoe om dit makliker te maak.  Elke keer wat ons baklei, moes ek ’n doilie hekel. Dit het my gehelp om te kalmeer.”

Met trane in die oë en dankbaarheid in sy hart omdat daar net twee doilies na 60 jaar se getroude lewe is, vra hy: “En die geld dan?”  Waarop sy antwoord: “Dis van al die doilies wat ek al verkoop het….”☺

Teks:

Efesiërs  4:17-32

Om oor na te dink

Wat laat jou bloed kook?

Hoe kan jy die gevoelens beheer?

Vra jy maklik om verskoning?

Gebed

Vader, ek moet bely dat ek soms nie die pyp rook nie. Daar is tye wanneer ek net nie die donderweer kan keer nie en in my kwaad sê ek dinge doen wat maar moes gebly het. Help my om in beheer te wees en so te reageer dat dit van U wysheid ten toon stel. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek