Om die liggaam reg te ruk
Vir die kerk het Jesus spesiale mense toegerus. Hy het priesters, profete, evangeliste, herders en leraars vir hierdie taak toegerus. Hulle taak: 12Hierdie mense, met die spesiale gawes wat hulle gekry het, werk saam om die gemeente te help en voor te berei om hulle werk as Christene in die wêreld goed te kan doen.
En die resultaat: 13Op dié manier sal die liggaam van Christus sterk word en kan wees wat dit behoort te wees. So sal ons al hoe nader aan mekaar beweeg en al hoe meer ’n eenheid vorm. Saam sal ons die Seun van God beter leer ken en meer op Hom vertrou. Dan sal ons soos geestelike grootmense word, so volwasse in ons geestelike lewe soos Christus self. 14Ons sal nie meer soos klein kindertjies onseker wees oor wat van ons verwag word nie. Ons sal nie soos ’n skip wees wat deur die golwe rondgeslinger word of deur die een wind hiernatoe en die ander wind daarnatoe gedryf word nie. Net so sal ons nie na elke nuwe godsdienstige praatjie op die mark luister nie. Mense probeer jou net met allerhande slimmighede om die bos lei om jou so op die verkeerde pad te laat beland. Maar hulle sal dit nie regkry nie. Ons sal in liefde lojaal teenoor mekaar en net op die pad van die waarheid bly. 15Ons verhouding met Jesus sal in alles net sterker word. Ons, as die liggaam, sal al hoe meer van Christus afhanklik wees, want Hy is mos die kop van die liggaam..
Ek wil kliphard skree: NO WAYS! NEE! As ek so om my kyk, is dit presies NIE die prentjie wat ek sien nie.
Die kerk is allermins sterk. Eintlik lyk dit swak met geen of bitter min impak in die wêreld. Mense beweeg verder uitmekaar en van eenheid is daar maar bitter min sprake. Ek weet nie of die kerk die mense regtig help om Jesus beter te leer ken nie. Wel, dit lyk nie of die mense hulle broer Jesus ken nie. Vir seker lyk die mense se dade nie soos volwasse kinders van God s’n behoort te lyk nie. Hulle tree meer op soos babatjies…
Sodra die eerste windjie begin spoed optel, skarrel die mense rond en dit lyk asof hulle geloof plat val. Daar word van die een prediker na die ander gehardloop en almal wonder wie is nou eintlik reg. En sonder dat hulle dit besef, beland hulle op die verkeerde pad. Lojaal? Nie meer nie, jammer, want eintlik is daar deesdae meer as een waarheid…
In skaamte laat sak ek my kop en ek wonder hoe sterk is ons verhouding nou regtig met Jesus. Ja, Jesus is die kop, maar ons as liggaam van Christus val uitmekaar. Ons lewe nie ’n lewe wat 100% afhanklik is van God nie, maar eerder van mammon. En ek weet baie pastore, priesters en profete sal wil sê dis nie so erg nie.
Ek dink ons moet ’n slag erken dat die prentjie wat Paulus hierbo van die kerk het, nie dieselfde prentjie is wat ons vandag van die kerk het nie. Waar lê die fout?
Nie by die kop van die liggaam nie, want dit is Jesus. Dan vermoed ek die fout lê êrens by die liggaam. Dit liggaam lyk nie lekker nie. En wie is die liggaam? Ek en jy. Ons maak saam die liggaam. Daarom kan ons geen vinger na ander wys nie.
So moet dit lyk: 16Die liggaam is mooi aanmekaargesit, elke deel op sy plek, sodat elke liggaamsdeel sy eie werk doen en die ander liggaamsdele help. So groei die liggaam en word dit sterk omdat die verskillende liggaamsdele in liefde en lojaliteit mekaar help.
Gaan dink ’n bietjie mooi na aan jou rol in die kerk. Gaan doen jy jou stukkie, want as ons elkeen net ons eie stukkie doen, sal Jesus se liggaam, die kerk anders lyk. Ons sal lyk soos Jesus se prentjie van die kerk.
Teks:
Om oor na te dink
Wat is jou aandeel in die liggaam van Christus?
Doen jy dit?
Waar kan jy begin?
Gebed
Vader, hoeveel anders kan U liggaam hier op aarde nie lyk as elkeen net sy deel doen nie. Ek weet dat ek nie my deel doen nie. Help my om te doen soos wat U van ons elkeen verwag om te doen. Mag U liggaam lyk soos U prentjie daarvan. Amen